Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Dit is natuurlik nie ‘n probleem wat eie aan Suid-Afrika is nie, soos so duidelik uit die internasionale finansiële krisis in 2008 geblyk het.

‘n Belangrike aspek van die krisis was die besef dat sommige finansiële instellings, veral banke, te groot kan wees om te misluk (“too big to fail” – TBTF), terwyl ander, alhoewel nie so groot nie, te onderling verbonde kan wees om te misluk. Die sistemiese risiko vir die finansiële stelsel sou net te groot wees en die voortspruitende gevolge vir die reële ekonomie net te ernstig om ‘n moontlike ontvouende ramp te ignoreer. Die gevolg is óf ‘n gestruktureerde reddingspoging waarby gesonde instellings in die finansiële sektor betrokke is en waardeur die insolvente instelling gewoonlik met ‘n solvente eweknie saamsmelt, óf ‘n kapitaalinspuiting vir sukkelende instellings uit staatsgeld.

Dit is billik om te sê dat die TBTF-probleem nog nie ten volle opgelos is nie ondanks uitgebreide hervormings van die finansiële sektor ná die krisis. ‘n Onlangse toespraak deur Stanley Fischer, vise-president van die VSA Federale Reserweraad, gee ‘n oorsig van die vordering met die hervorming van die finansiële sektor tot op hede, insluitend TBTF. Volgens hom is goeie vordering gemaak met die hantering van hierdie probleem, maar “ons moet nooit oorgerus raak en glo dat ons ‘n einde aan TBTF gemaak het nie”.

Die nuwe maatreëls wat aanvaar is om TBTF te hanteer, sluit die vereiste in dat sistemies belangrike finansiële instellings sogenaamde “lewende testamente” of gebeurlikheidsplanne moet opstel waarin hulle uiteensit hoe hulle in geval van bankrotskap hul bedrywighede op ‘n ordelike wyse sal likwideer sonder om die finansiële stelsel in chaos te dompel. Reguleerders in die VSA het onlangs die “lewende testamente” van 11 groot banke verwerp en die banke tot hul ontsteltenis aangesê om dit oor te doen. Die reguleerders het in werklikheid erken dat groot banke nie in ‘n ordelike bankrotskapproses gelikwideer kan word nie.

Of groot banke ooit bevredigende “lewende testamente” sal kan opstel, is ‘n ope vraag. Dit sal onvermydelik afhang van wye aannames, insluitend oor hoe ander instellings wie se samewerking in die likwidasieproses noodsaaklik is, sal optree. As ons ooit by die punt kom waar so ‘n “lewende testament” op die proef gestel word, is sukses nie gewaarborg nie.

Suid-Afrika het natuurlik sy eie te-groot-om-te-misluk-uitdaging. Dit is ondenkbaar dat een van die groot vier banke toegelaat kan word om bankrot te speel sonder sistemiese gevolge en ‘n ernstige ontwrigting van reële ekonomiese bedrywigheid. Geen planne wat uitdruklik met hierdie probleem verband hou, is bekend nie, maar die beste manier om TBTF te hanteer is steeds behoorlike regulering en toesig, d.w.s. om te voorkom dat die probleem in die eerste plek ontstaan.

‘n Mens moet egter nie te veel gewig aan die TBTF-probleem in Suid-Afrika heg nie. Die Suid-Afrikaanse bankstelsel het per slot van rekening ‘n lang geskiedenis van stabiliteit ondanks die hoogs gekonsentreerde aard daarvan. Hierdie eienskap word met ander hoogs gekonsentreerde stelsels, bv. in Australië en Kanada, gedeel. Trouens, navorsing deur Beck, Demirgüç-Kunt en Levine (2003) het bevind dat dit minder waarskynlik is dat meer gekonsentreerde bankstelsels met hoë mededingingsvlakke krisisse sal ondervind.

Dit lei tot die vraag waarom die SARB besluit het om African Bank te red.

In die eerste plek was African Bank beslis nie te groot of te verbonde om te misluk nie – sy bankrotskap sou nouliks ‘n bedreiging vir finansiële stabiliteit gewees het. Die aandelepryse van ander banke (met die uitsondering van Capitec, wat dieselfde blootstelling as African Bank aan ongedekte lenings het), het nie juis ‘n verandering getoon toe die nuus oor African Bank se verknorsing bekend geraak het nie, en interbank-geldmarkkoerse het stabiel gebly.

Die laaste paragraaf van die President van die SARB se aankondiging van die reddingsplan gee dalk ‘n aanduiding. Dit lui dat ondanks die uitdagings waarvoor African Bank staan, die regering se beleid van finansiële insluiting gepas en belangrik is. Dit vereis gesonde praktyke, geskikte kredietverlening wat betref bekostigbaarheid en ‘n groter poging om vir entrepreneurs asook klein- en middelslagondernemings beter toegang tot finansiering te bied.

Dit verleen ‘n nuwe dimensie aan die redes waarom die redding van ‘n finansiële instelling wat besig is om te misluk, moontlik van waarde kan wees. By te-groot-om-te-misluk en te-onderling-verbonde-om-te-misluk moet ons nou skynbaar te-inklusief-om-te-misluk byvoeg. Net die tyd sal leer wat dit vir Suid-Afrika se verdere finansiële ontwikkeling beteken.

Dit impliseer ook ‘n uitbreiding van die probleem van morele gevaar, d.w.s. die aanmoediging van riskante gedrag deur finansiële instellings omdat hulle weet dat hulle in geval van moeilikheid gered sal word. Trouens, die voorwaardes van die besluit oor African Bank is onewewigtig, omdat die belastingbetaler die koste sal dra indien die invordering van slegte skuld minder is as die 41% waarvoor voorsiening gemaak word, terwyl die Abil goeie bank volgens ‘n terugvorderingsooreenkoms voordeel sal trek indien prestasie verwagtinge oorskry. Met ander woorde, as dit kop is, verloor die belastingbetaler, en as dit munt is, wen die Abil goeie bank!

Op die ou end ondermyn enige inmenging in die bankrotskapproses die doeltreffende werking van ‘n markekonomie. Sakelui en beleggers behoort die volle gevolge, hetsy positief of negatief, van hul besluite te dra. Indien hierdie beginsel nie nagekom word nie en die staat na goeddunke inmeng, word private entiteite in semi-openbare entiteite verander.

Bronnelys

  1. Stanley Fischer: “Financial Sector Reform: How Far Are We?” Martin Feldstein-lesing. Nasionale Buro vir Ekonomiese Ondersoek. 10 Julie 2014.
  2. Thorsten Beck, Asli Demirgüç-Kunt, en Ross Levine: “Bank Concentration and Crises”. Nasionale Buro vir Ekonomiese Ondersoek. Besprekingsdokument 9921. Augustus 2003.
  3. Opmerkings deur die President van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Gill Marcus. Mediakonferensie10 Augustus 2014: African Bank.
Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam