Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

In die IMF se Artikel IV-konsultasieverslag wat onlangs vrygestel is, weerklink die oortuiging dat ekonomiese groei die sleutel tot die oplossing van Suid-Afrika se verskillende uitdagings is, soos ‘n refrein.

Maar Suid-Afrika moet nie hoër groei najaag net om die kredietgraderingsagentskappe en die IMF tevrede te stel nie – die omstandighede van sy burgers vereis dit. Die eerste vereiste vir die verlaging van ‘n werkloosheidskoers van 27% en die gepaardgaande probleme van armoede en ongelykheid is ekonomiese groei.

Wat duidelik uit die verklarings deur die kredietgraderingsagentskappe én die IMF blyk, is dat alhoewel hulle oor die algemeen tevrede was met die nuutgevonde dringendheid van die Suid-Afrikaanse owerhede ná “Nenegate”, en die eensgesindheid van die regering, die sakesektor en die arbeidsmag, verlang hulle optrede, en gou ook. Met net 4 maande oor voordat die graderingsagentskappe hul besluite moet neem, raak die tyd min.

Die feit dat dit deur die Minister van Finansies erken word, is egter skrale troos. Mnr Gordhan kon byvoorbeeld nie sy sin kry oor die leierskap van die SAID en SAL nie en word openlik deur President Zuma teengestaan, terwyl die Valke ook nog oor sy skouer loer.

‘n Mens kan maar net gis oor die gebrek aan sigbare vordering. Die gebrek aan doelgerigte optrede kan bloot wees weens die munisipale verkiesing en die nodigheid om ’n verkiesingsveldtog te voer (dalk meer as in die verlede omdat die verkiesingstryd hewiger is) wat sake ontwrig, en dat daar ná die verkiesing daadwerklike optrede deur die regering sal wees.

Of dit kan ‘n hernieude teken wees van ‘n gebrek aan fokus en behoorlike prioritisasie as gevolg van die feit dat die huidige administrasie die droewige stand van die ekonomie ontken. Soos berig in Business Day, het President Zuma in ‘n toespraak in die Nelson Mandela Metropool op 23 Julie fel te velde getrek teen ekonome en die media oor hul stellings dat die ekonomie besig is om te verswak, en gesê dit gaan goed met die land.

‘n Mens kan egter net wonder of die probleem nie ‘n meer fundamentele een is nie. Die graderingsagentskappe sowel as die IMF het hul tevredenheid uitgespreek oor die privaat sektor se betrokkenheid om ‘n oplossing vir Suid-Afrika se groeiprobleem te vind en verwag blykbaar dat dit in die toekoms ‘n deurslaggewende rol gaan speel. Die vraag is of die regering (en nie net die Pravin Gordhan-faksie nie) gewillig is om die privaat sektor toe te laat om so ‘n dominante rol te speel.

Herhaalde beskuldigings van “wit monopoliekapitaal” dra nie by tot ‘n gesonde verhouding tussen die sakesektor en die regering nie. Meer fundamenteel bring dit die hele idee van ‘n Suid-Afrikaanse ontwikkelingstaat, met die staat wat die leidende rol speel, na vore, en of dit moontlik ‘n onoorkomelike struikelblok vir samewerking tussen die sakesektor en die regering kan wees.

Politieke ontleders is dit oënskynlik eens dat die ANC nie meer die verenigde politieke beweging is waarop hy in die verlede aanspraak gemaak het nie, dat hy sy samehorigheid verloor het en dat, in plaas van om ‘n alliansie van entiteite met ‘n gemeenskaplike geskiedenis van die bevegting van apartheid te wees (hoofsaaklik die ANC, die SAKP en Cosatu), die party nou ‘n verskeidenheid faksies verteenwoordig wat ‘n stryd teen mekaar voer om die opperhand te kry. Dit is ironies dat die rigting waarin die regerende party tans beweeg dit makliker kan maak om ideologiese eenheid te bewerkstellig en sodoende konsensus te bereik deur dit minder noodsaaklik te maak om randmenings in ag te neem.

Toe die Zuma-administrasie in 2009 aan die bewind gekom het, is hul ondersteuners beloon (soos politici geneig is om te doen!) deurdat belangrike ekonomiese funksies aan hulle toegewys is. Die SAKP het beheer oor die Departement van Handel en Nywerheid gekry en die geleentheid om sy ideologie bevorder, en ‘n nuwe department (Ekonomiese Ontwikkeling) is geskep as ‘n kanaal waardeur Cosatu sy ekonomiese denke kon kanaliseer.

Aangesien die SAKP se invloed binne die regering waarskynlik heelwat gaan afneem en met verloop van tyd dalk heeltemal kan verdwyn weens hul onenigheid met President Zuma, en Cosatu se statuur aansienlik verswak is deur hul skeuring, word groter ideologiese eenstemmigheid binne die ANC, veral met betrekking tot die onderskeie rolle van markte en die staat in die ekonomie, ‘n sterk moontlikheid.

Maar hoe sal ‘n nuwe konsensus lyk? Onder watter ideologiese sambreel sal ‘n hervormde ANC verenig word? Hoe sal die ANC se ekonomiese ideologie inpas by hul begeerte na ekonomiese transformasie (wat toenemend deur die EFF se vooruitgang aangedryf word)?

Te oordeel aan verwikkelinge die afgelope paar jaar is die mees waarskynlike uitkoms ‘n geleidelike verskuiwing na ‘n vorm van staatskapitalisme, wat goed inpas by die idee van ‘n ontwikkelingstaat (gelet op die feit dat die Suid-Afrikaanse ekonomie voor 1994 reeds sterk elemente van staatskapitalisme bevat het). Die Suid-Afrikaanse regering se beheptheid met China en Rusland as rolmodelle dui ook in dié rigting.

In sy onlangse essay oor staatskapitalisme ondersoek Joshua Kurlantzick ‘n lang lys van erkende staatskapitaliste en wys hy daarop dat baie ander lande elemente van staatskapitalisme toon. Die lys sluit van ondoeltreffende staatskapitaliste soos Iran, Rusland en Venezuela tot dié wat as uiters doeltreffend beskou kan word, bv. Singapoer, Noorweë en Maleisië, in. Wat politieke stelsels betref, wissel hulle van outokrasieë soos Saoedi-Arabië, Rusland en China tot demokrasieë soos Brasilië, Indië en Indonesië.

Kurlantzick kom tot die gevolgtrekking dat die verskeidenheid staatskapitaliste bewys is van die model se aanpasbaarheid en dat die ekonomiese sukses van verskeie van die voorste staatskapitaliste die model se sterkpunte aantoon. Hy beklemtoon egter staatskapitalisme se kwesbaarheid vir korrupsie, baantjies vir boeties (“cronyism”) en begunstiging, en die negatiewe implikasies daarvan vir doeltreffendheid.

Volgens Kurlantzick neig Suid-Afrika tot ondoeltreffende staatskapitalisme, alhoewel naby die boonste grens van demokratiese praktyk, soos geoordeel volgens die maatstaf van gevoeligheid vir populêre sentiment. Dit is ietwat ongerymd, moontlik omdat die steeds swak fondamente van demokrasie ‘n neiging tot ‘n outokratiese persoonlikheidsgedrewe regeringstyl tot gevolg het. Kurlantzick waarsku dat die meeste outokratiese staatskapitaliste geneig is om uiteindelik entrepreneurskap te onderdruk, hul eie mense te viktimiseer net om ‘n klein groepie leiers te vevoordeel, in gebreke te bly om doeltreffende bestuur deur ekonomiese beleidvormers aan te moedig, en hul eie groei ondermyn. Suid-Afrika behoort hiervan kennis te neem.

Dit staan ook geen land vry om na willekeur die ekonomiese stelsel van sy voorkeur aan te neem sonder om homself af te vra of dit by die heersende wêreldstelsel inpas nie. In sy oorsig van die ineenstorting van die Sowjetunie en die uitwerking daarvan op ander kommunistiese lande het Georgi Derluguian opgemerk dat alle kommunistiese state uiteindelik na kapitalisme teruggekeer het omdat sosialisme in een land moontlik nie kan bly voortbestaan nie tensy die hele kapitalistiese wêreldstelsel vervang word deur ‘n ander historiese stelsel waar kapitaalophoping nie meer die topprioriteit is nie.

Wat Rusland betref, is dit nie ondenkbaar nie dat die Russiese ekonomie ten spyte van sy transformasie mettertyd ineen kan stort as gevolg van sy onvermoë om ‘n gediversifiseerde ekonomie op te bou wat internasionaal kan meeding. China se aanvaarding van ‘n groter rol vir markte in sy ekonomie is ‘n verdere voorbeeld van ‘n land wat verplig is om volgens die reëls van die wêreldstelsel te speel indien hy voordeel daaruit wil trek.

Suid-Afrika se beleidvormers moet dus besef dat hulle ook aan die beperkings van die wêreldstelsel onderworpe is, of hulle nou daarvan hou of nie. Om te dink dat nouer bande met lande soos China en Rusland dit op een of ander manier vir Suid-Afrika moontlik sal maak om hierdie beperkings vry te spring, is wensdenkery omdat daardie lande self daaraan onderworpe is.

Staatskapitalisme is nie noodwendig sleg nie, soos byvoorbeeld deur Singapoer gedemonstreer, solank dieselfde doeltreffendheidstandaarde as in die privaat sektor van toepassing is en ’n manier om met laasgenoemde saam te werk, gevind word. Maar dit is baie duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering baie gou sy sake in orde sal moet kry en konkrete, sigbare resultate sal moet lewer.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam