Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Behalwe die negatiewe praktiese implikasies wat so ‘n stap op die beskikbaarheid en koste van kapitaal sal hê, is daar blykbaar ‘n sielkundige afkeer van die beskrywing “rommel”. Dit is dus nie net die finansiële koste van ‘n afgradering wat op die spel is nie (eerstens vir die Suid-Afrikaanse regering, maar ook vir die korporatiewe sektor aangesien sy gradering van dié van die staat afhanklik is), maar ook nasionale selfagting!

Die algemene siening is skynbaar dat die dreigende graderingsbesluit uitsluitend afhang van die gesondheid van staatsfinansies en dat die opkomende nasionale begroting dus deurslaggewend sal wees wat die bepaling van die uitslag betref. Die mening blyk veral te wees dat indien Suid-Afrika ‘n geloofwaardige verbintenis tot die stabilisering en die uiteindelike vermindering van die vlak van staatskuld kan toon, alles in die haak sal wees. Ek is bevrees dit is nie so eenvoudig nie.

Wat onder die loep is, is die Suid-Afrikaanse regering se vermoë om die land se ekonomiese posisie te ontleed en te verstaan, te bepaal wat sy prioriteite moet wees, die nodige ekonomiese beleid te formuleer om hierdie prioriteite te ondersteun, en die gekose beleidsmaatreëls suksesvol uit te voer. Die toekoms van die Suid-Afrikaanse ekonomie is per slot van rekening nie net van die stand van die fiskale rekeninge afhanklik nie, maar ook van sy prestasie in al sy diversiteit en kompleksiteit, waarby alle rolspelers betrokke is.

Die hoofkenmerk van kredietgraderingsagentskappe se onlangse uitsprake oor Suid-Afrika is die klem wat op ekonomiese groei, of meer spesifiek die gebrek daaraan, gelê word. En nie net groei op kort termyn nie, maar ook Suid-Afrika se potensiële groeikoers op lang termyn. Byvoorbeeld, toe Standard & Poor op 4 Desember 2015 aangekondig het dat hulle die vooruitsigte vir Suid-Afrika se soewereine kredietgradering van stabiel na negatief gaan verander, het hulle as rede vir die besluit aangevoer dat die negatiewe vooruitsigte hul siening weerspieël dat BBP-groei moontlik laer kan wees as wat hulle verwag.

Aan die positiewe kant het S&P verklaar dat hulle die gradering weer na stabiel kan verander indien hulle sien dat die implementering van beleid verbeterde sakevertroue en groter investering deur die privaat sektor tot gevolg het en uiteindelik tot hoër BBP-groei bydra.

In die lig van die belangrikheid van ekonomiese groei vir die volhoubaarheid van staatskuld, opgesom in die vereiste dat die groeikoers die rentekoers op staatskuld in reële of nominale terme moet oorskry, is hul kommer verstaanbaar. Suid-Afrika voldoen tans nie aan hierdie vereiste wat betref nuwe skuld nie, en hoe meer die rentekoers styg, hoe hoër sal die vereiste groeikoers word.

Die feit is dat Suid-Afrika se groeivooruitsigte vir 2016 en 2017 reeds heelwat laer is as die graderingsagentskappe se jongste vooruitskattings, wat ‘n afgradering na rommelstatus ‘n werklike moontlikheid maak. So onlangs soos Desember 2015 het S&P en Firtch onderskeidelik ‘n groeikoers van 1,6% en 1,7% vir Suid-Afrika in 2016 voorspel, terwyl die jongste aanduidings is dat dit minder as 1% gaan wees. Vooruitskattings vir 2017 is eweneens ooroptimisties en sal onvermydelik verlaag word.

Wanneer ‘n mens so lank as ek kommentaar oor die Suid-Afrikaanse ekonomie lewer, is een van die beroepsrisiko’s die frustrasie dat jy jouself oor en oor herhaal en sien dat min vordering gemaak word met kritieke strukturele kwessies wat die ekonomie aan bande lê. Ekonomiese groei, die nodigheid om dit ‘n absolute prioriteit te maak, en die formulering en implementering van ‘n omvattende stel beleidsmaatreëls om ‘n gunstige omgewing vir groei te skep, is boaan die lys. Dit is waarom die Suid-Afrikaanse regering se nuutgevonde ywer om die groeikoers van die ekonomie te verbeter my nie opgewonde maak nie.

In ‘n kommentaar oor ekonomiese groei wat ek verlede jaar geskryf het, het ek die stelling gemaak dat die Suid-Afrikaanse regering nie ‘n groeibeleid het nie. Hulle het steeds nie een nie. Om te glo dat ‘n vergadering van die regering, besigheid en arbeid ons op een of ander wyse op ‘n hoër groeibaan sal plaas, is naïef.

Die idee dat ons op ‘n groeikoers kan besluit en dan die faktore wat groei bepaal kan manipuleer om die gewenste resultaat à la China te verseker, is totaal onrealisties. China se stryd om te aanvaar dat dit onmoontlik is om verbruikersbesteding (die toekomstige aandrywer van groei) te manipuleer soos wat hy beleggingsbesteding (die groei-aandrywer van die verlede) deur staatsbeheerde krediet en openbare investering, waarvan ‘n groot deel verkwistend was, manipuleer het, begin nou maar eers.

Dit sal vir die regering raadsaam wees om te erken dat ekonomiese groei nie ‘n doelwit is wat ‘n mens regstreeks kan bereik deur dit of dat te doen nie. Al wat jy kan doen, is om die nodige toestande te skep en groei te laat gebeur!

Soos Adair Turner in sy Lionel Robbins Gedenklesings in Oktober 2010 op gewys het, moet ekonomiese groei nie beskou word as die doelwit van ekonomiese beleid nie, maar eerder as die hoogs waarskynlike uitkoms van twee dinge wat op sigself wenslik is – ekonomiese vryheid om keuses te kan maak, en ‘n gees van voortdurende ondersoek en ‘n sug na verandering. Dit sal vir die regering raadsaam wees om hierdie twee beginsels te aanvaar as die fondament vir die skep van toestande wat bevorderlik is vir hoë groei.

Die eerste wat hulle (die regering) behoort te doen, is om weer te kyk na hul eie insigte van die verlede ten opsigte van wat gedoen moet word om Suid-Afrika te laat floreer, beginnende by die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) waaraan nie veel meer as lippediens bewys word nie. Dit sal ook nie kwaad doen om weer te kyk na die Inisiatief vir Versnelde en Gedeelde Groei vir Suid-Afrika (ASGISA) wat skynbaar sonder enige rede, behalwe die feit dat dit die geesteskind van die Mbeki-administrasie was (wat dalk ook die gebrek aan entoesiasme vir die NOP verklaar), deur die Zuma-administrasie op die lange baan geskuif en met die Nywerheidsbeleidaksieplan en Nuwe Groeipad vervang is.

Soos ek al voorheen gesê het, sal Suid-Afrika ‘n beter balans moet vind tussen die bevordering van ekonomiese transformasie en die strewe na hoër groei. Ekonomiese groei kan nie meer na ‘n onbelangrike tweede plek afgeskuif word nie. Die twee doelwitte is per slot van rekening nie onverenigbaar nie – dit sal soveel makliker wees om transformasiedoelwitte in ‘n omgewing van hoë groei te behaal.

Soos ook voorheen genoem, sal die prioritisering van maatskaplike doelwitte ook ‘n tree terug moet gee. As ons beleidsmaatreëls wat vir ekonomiese groei nodig is met dieselfde ywer en toewyding kan nastreef as waarmee maatskaplike doelwitte nagestreef word, sal ons kanse op sukses aansienlik verbeter.

Wat die vermyding van rommelstatus betref, sal die tweede deel van hierdie bespreking handel oor die nodige stappe wat in die begroting gedoen moet word, voordat tot ‘n gevolgtrekking gekom word.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam