Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

En nou kom Thomas Piketty, Franse Professor in Ekonomie, gekroon as “die eerste rock-ster-ekonoom van die een-en-twintigste eeu” ná die enorme sukses van sy boek, Capital in the Twenty-First Century (hierna verwys as Capital), waarvan meer as 2,5 miljoen kopieë in die afgelope twee jaar verkoop is, binnekort na Suid-Afrika. Ná ‘n kort besoek aan Kaapstad vertrek hy na Johannesburg om op 3 Oktober vanjaar se Nelson Mandela Gedenklesing te lewer.

Die uitnodiging aan Professor Piketty is vermoedelik as gevolg van sy geskrifte oor ekonomiese ongelykheid wat as van toepassing op Suid-Afrika gesien word aangesien dit as so ‘n uiters ongelyke gemeenskap beskou word. Op stuk van sake word Professor Piketty se boek allerweë deur voorstanders van groter gelykheid aangeneem ter ondersteuning van hul saak ondanks die feit dat dit meer vir die polemiese impak as die akademiese strengheid daarvan geprys word.

Met die vrystelling van die Engelse vertaling van Capital wat saamgeval het met die debat oor die 1% vs die 99%, veral in die VSA, is die sukses van die boek nie toevallig nie en is dit nie verbasend nie dat dit in ‘n stadium boaan Amazon se lys van topverkopers was. Capital se gewildheid kan waarskynlik in groot mate toegeskryf word aan wat algemeen bekend staan as “bevestigingsvooroordeel”, naamlik die neiging van mense om baie ontvanklik te wees vir geskrifte wat hul eie vooropgesette idees en sienings steun en dié wat nie met hulle saamstem nie te verwerp.

Dit is hoogs waarskynlik dat ‘n groot aantal van die 2,5 miljoen mense wat ‘n kopie van Capital gekoop het nie al die ongeveer 600 bladsye van taamlik digte teks gelees het nie (alhoewel dit hulle nie daarvan weerhou om die boek ter stawing van hul eie sienings aan te haal nie!). Dit is selfs meer onwaarskynlik dat baie van hulle hulself verdiep het in die sekondêre literatuur wat in reaksie op Capital verskyn het en waarvan baie krities staan teenoor Piketty se gevolgtrekkings. Sonder laasgenoemde sal ‘n mens op die ou end stellig met ‘n ongebalanseerde siening van Piketty se argument sit.

Ek wonder hoeveel van Piketty se bewonderaars byvoorbeeld geworstel het met die omvattende navorsing wat bevind het dat die toename in rykdom ná WWII, wat Piketty so omkrap, in ’n hoë mate toegeskryf kan word aan die toenemende waarde van vaste eiendom danksy groeiende huiseienaarskap, wat sekerlik nie ‘n slegte ding is nie en tot maatskaplike stabiliteit bydra eerder as om dit in gevaar te stel. Maar in Piketty se wêreld is die akkumulasie van bates deur spaar van arbeidsinkomste ‘n onwelkome inmenging.

Piketty is hoofsaaklik begaan oor die styging in die inkomstekomponent aan die bopunt van die inkomsteverdelingskromme (die top-1%) eerder as ongelykheid as ‘n algemene verskynsel. As ‘n verduideliking van hierdie tendens fokus hy op inkomste uit rykdom of bates eerder as uit arbeid as ‘n aandrywer van ongelykheid, terwyl laasgenoemde algemeen beskou word as die belangrikste aandrywer van ongelykheid oor die volle inkomsteverdelingkromme heen.

In sy resensie van Capital beskou Paul Krugman dit as ‘n kerntekortkoming van Piketty se argument. Volgens Krugman is dit ‘n feit dat die mees opvallende voorbeeld van toenemende ongelykheid in die hedendaagse wêreld – die opkoms van die baie ryk een persent in die Anglo-Saksiese wêreld, veral die Verenigde State – nie veel te make het met die akkumulasie van kapitaal nie, ten minste nie tot dusver nie. Dit het meer te make met merkwaardig hoë vergoeding en inkomste.

Piketty se grootste bekommernis is die moontlikheid van die opkoms van ‘n nuwe rentenierstand wat lewe van die inkomste verkry uit geërfde rykdom. Na Krugman se mening is die hoofgedagte van Capital in the Twenty-First Century dat ons nie net teruggekeer het na die neëntiende eeuse vlakke van inkomste-ongelykheid nie, maar dat ons ook op pad terug is na “patrimoniale kapitalisme” waarin die beheerpunte van die ekonomie nie deur talentvolle individue nie maar deur familiedinastieë beheer word.

Maar uit ‘n Suid-Afrikaanse perspektief is die mees relevante kritiek oor Capital moontlik dié van Daren Acemoglu en James A. Robinson, die skrywers van nog ‘n hoog aangeskrewe boek oor die ekonomiese kwessies van ons tyd, naamlik waarom party nasies suksesvol is terwyl ander misluk.

Acemoglu en Robinson kry Piketty voor stok omdat hy dieselfde fout as Karl Marx begaan (die titel van Piketty se boek is per slot van rekening met opset gekies met Marx se Das Kapital in gedagte) deur te poog om algemene ekonomiese wette af te lei uit ‘n baie beperkte reeks data wat met ‘n bepaalde era en geografie verband hou en hierdie “wette” oor tyd en ruimte heen veralgemeen.

Die Piketty-hipotese is gegrond op data uit ‘n beperkte aantal ontwikkelde (by name Anglo-Saksiese) lande gedurende die afgelope 100 jaar – ‘n tydperk wat groot gebeurtenisse soos twee wêreldoorloë, die opkoms en ondergang van ‘n belangrike ideologie (kommunisme), globalisering, opeenvolgende vlae van tegnologiese verandering, toenemende finansialisering, ens. insluit, wat almal ‘n invloed op die verdeling van inkomste en rykdom gehad het.

Na Acemoglu en Robinson se mening is die soeke na algemene wette van kapitalisme onbedag omdat dit die belangrikste kragte wat bepaal hoe ‘n ekonomie funksioneer, ignoreer: die endogene ewolusie van tegnologie en van die instellings en die politieke ewewig wat nie net tegnologie beïnvloed nie maar ook hoe markte funksioneer en hoe die winste uit verskillende ekonomiese opsette verdeel word. ‘n Mens kan dus nie gevolgtrekkings veralgemeen soos wat Piketty doen nie, en sy hipotese laat veel te verduidelik oor.

Volgens Acemoglu en Robinson is die hoofrede vir die onvolledigheid van Piketty se hipotese die feit dat alhoewel hy die rol van sekere instellings en beleidsaspekte bespreek, hy nie voorsiening maak vir ‘n stelselmatige rol van instellings en politieke faktore in die vorming van ongelykheid of vir die endogene ewolusie van hierdie institusionele faktore nie. Hulle vind ook geen korrelasie of oorsaaklike effek in die verhouding tussen die rentekoers (r) en die ekonomiese groeikoers (g, wat lei na Piketty se r > g stelling) en ongelykheid nie (veral die top-1%-inkomstekomponent), wat Piketty as die hoofaandrywer van toenemende ongelykheid beskou.

Na Acemoglu en Robinson se mening word die verdeling van inkomste en rykdom in die samelewing bepaal deur die heersende ekonomiese en politieke instellings, wat die onderskeid wat hulle in hul vroeëre werk tussen inklusiewe en ekstraktiewe instellings getref het, verder voer. As bewys van hul argument, verwys hulle na die ervarings van twee lande met verskillende institusionele raamwerke – een wat vir ’n hoë mate van gelykheid bekend is, naamlik Swede, en een wat as uiters ongelyk bekend staan, naamlik Suid-Afrika.

Met ander woorde, hulle beskou die Suid-Afrikaanse ervaring met ongelykheid as bewys dat Piketty verkeerd is. By implikasie, sonder om aanspraak te maak op enige vooruitsiende kennis van wat Professor Piketty in sy opkomende lesing gaan sê, is sy hipotese soos in Capital uiteengesit, nie van toepassing op Suid-Afrikaanse omstandighede nie.

Dit beteken egter nie dat Acemoglu en Robinson nie Piketty se kommer oor ongelykheid deel nie. Hulle gee in wese die instellings van die apartheid-era en vroeër (die Wet op Naturellegrond van 1913, werkreservering, die Groepgebiedewet, onderwysongelykhede, ens.) wat swart mense benadeel het, die skuld.

Ongelukkig gee hulle weinig aandag aan die institusionele rewolusie ná 1994 en die implikasies daarvan. Alhoewel die institusionele verandering van die afgelope 20 jaar (wat regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, die bevoordeling van swart besighede by staatsaankope, die groei van die welsynstaat, ens. insluit) die gaping tussen verskillende bevolkingsgroepe vernou het, het dit ‘n verdere vergroting van die gaping tussen individue in elke bevolkingsgroep bevorder.

Soos die figuur duidelik aantoon, is die top-1%-inkomstekomponent net so kontroversieel in Suid-Afrika as in die ontwikkelde wêreld. Gedurende die dekade van 2000 tot 2010, d.w.s. nadat apartheid beëindig is, het Suid-Afrika die grootste styging getoon in vergelyking met die ander lande in die figuur. In soverre Piketty se kommer oor die top-1%-inkomstekomponent relevant is vir Suid-Afrika, behoort dus erken te word dat dit nie net op die begunstigdes van die bedeling voor 1994 van toepassing sou wees nie, maar ook op die begunstigdes van swart ekonomiese bemagtigingstransaksies en tenderpreneurskap.

Hierdie bekommernis is reeds weerspieël in die Davis Belastingkomitee se aanbeveling (wat onder meer deur omvattende verwysings na Capital gemotiveer is) dat die reëls vir die betaling van boedelbelasting gewysig behoort te word ten effekte dat belastinginkomste uit hierdie bron ongeveer tienvoudig sal toeneem.

Top-1%-inkomstekomponent 1980 - 2010

Bron: IMF (2015)

Miskien sou ‘n openbare debat tussen Piketty en Acemoglu meer interessant gewees het as Piketty se lewering van die Nelson Mandela Gedenklesing!

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam