Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Die aankondiging volg kort op die hakke van ‘n aantal internasionale banke in die VK en die VSA wat swaar beboet is vir knoeiery in valutamarkte tot hul eie voordeel. Tot op hede het die betrokke banke altesaam meer as $10 miljard in boetes betaal. Die drie bankgroepe wat die swaarste boetes opgelê is, naamlik Barclays ($2,32 miljard), Citigroup ($2,29 miljard) en JP Morgan ($1,9 miljard), maak ook deel van die Suid-Afrikaanse ondersoek uit.

Trouens, die MK se aankondiging lui dat hul ondersoek “soortgelyke ondersoeke deur ander mededingingsowerhede in ander jurisdiksies volg”. Afgesien van die ondersoeke deur finansiëlemarkreguleerders, en nie mededingingsowerhede nie, in ander lande het internasionale gebeure klaarblyklik aanleiding tot die MK se optrede gegee.

In die lig van die feit dat volgens BIS-statistiek ongeveer 50% van die handel in die rand in buitelandse geldsentrums plaasvind, is dit nie duidelik hoe die MK sy ondersoek gaan doen nie.

Gelet op die Reserwebank se verantwoodelikheid om die valutabedrywighede van ge-magtigde handelaars en ander markdeelnemers te monitor, wil sommige kenners weet waarom die Suid-Afrikaanse ondersoek nie deur die Bank gedoen word nie. Dit gaan egter om ‘n meer fundamentele kwessie wat weereens ‘n gebrek aan koördinering van die toepassing van ekonomiese beleid uitlig.

Die Suid-Afrikaanse owerhede is besig om ‘n hervormde struktuur van finansiële reg-ulering, die sogenaamde “twin peaks”-model, in te stel. As deel van hierdie inisiatief sal twee nuwe reguleerders geskep word, naamlik ‘n Prudential Authority (PA) wat in die Reserwebank gesetel sal wees, en ‘n Financial Sector Conduct Authority (FSCA).

In ‘n aanbieding wat deel uitgemaak het van ‘n reeks openbare werksessies vroeër vanjaar het die Nasionale Tesourie die fokusarea van laasgenoemde beskryf as: “Die regulering van markgedrag is daarop gemik om die gevare wat ontstaan wanneer ‘n finansiële instelling sake doen op maniere wat onbillik teenoor kliënte is of die integriteit van finansiële markte en vertroue in die finansiële stelsel ondermyn, te voorkom en, wanneer voorkoming nie suksesvol is nie, te beheer.”

Die spil waarom die monitoring van markgedrag draai, is wetgewing wat van finansiële instellings vereis om hul kliënte billik te behandel. Hoofstuk 8 van die Konsep-beleidsraamwerk oor Markgedrag vir Suid-Afrika handel ook spesifiek oor die verbeter-ing van die doeltreffendheid en integriteit van finansiële markte. Die hervorming van Suid-Afrika se finansiële reguleringstruktuur is ook in ooreenstemming met beginsels waarop die G20 reeds ooreengekom het en wat dit makliker sal maak om met ons eweknieë in ander jurisdiksies saam te werk.

Hierdie wetgewing was aanvanklik hoofsaaklik gemik op hoe finansiële instellings hul kleinhandelkliënte behandel. Volgens bogenoemde aanbieding sal die monitoring van die gedrag van die finansiële sektor ook na die groothandelsegment uitgebrei word (wat ‘n ander benadering sal vereis), en sal “valutaknoeiery” in die besonder onder markgedragmislukkings ingesluit word.

Dit laat die vraag ontstaan waarom die MK besluit het om sy ondersoek in te stel. Te oordeel aan die mediavrystelling wat die ondersoek aangekondig het, is die Kommissie blykbaar heeltemal onbewus van die implementering van die “twin peaks” regulatiewe hervormings. Indien dit ‘n geval is van die MK wat vir die FSCA instaan totdat dit in werking tree, sou dit nuttig gewees het as dit uitgespel is.

Die betrokkenheid van die MK by die regulering van finansiële markte is ook op ‘n ander manier problematies. Alhoewel mededingingsbeleid en finansiële regulering albei ‘n belang by markstruktuur en -gedrag op ‘n mikro-ekonomiese vlak het, en albei uiteindelik makro-ekonomiese uitkomste beïnvloed, sou dit ongewoon wees vir anti-mededingende gedrag in produk- en dienstemarkte om ‘n sistemiese gevaar te wees op die wyse wat finansiële krisisse aangetoon het finansiële wangedrag wel is. Met ander woorde, alhoewel mededingingsbeleid op die mikro- (selfs ad hoc-) vlak kan stop (wat gewoonlik gebeur), moet finansiële regulering altyd die makro- en sistemiese im-plikasies daavan in ag neem.

Indien wisselkoerse weens manipulering deur valutahandelaars nie in ooreenstemming is met fundamentele markkragte nie, is dit nie net ‘n geval van die ander party wat finansieel benadeel word nie – iets wat deur die betaling van vergoeding reggestel kan word. Wisselkoerse wat nie in ooreenstemming is met markkragte nie, sal die betalingsbalans beïnvloed en waarskynlik wanbalanse veroorsaak of vererger. Dit kan ook gemete inflasie raak, afhangende van die impak daarvan op die rigting en omvang van wisselkoersveranderinge. Rentekoerse kan dus ook verwring word, met ‘n moontlike negatiewe uitwerking op reële ekonomiese bedrywigheid.

Die gedrag/wangedrag van die finansiële sektor behels ook baie meer as die ma-nipulering van wisselkoerse en sluit aspekte in wat stellig buite die bestek van die mededingingsowerhede val en dit sou die beste wees indien alle fasette van fi-nansiëlesektorgedrag omvattend gehanteer word om konsekwentheid te verseker.

In dié verband is dit die moeite werd om te let op die VK se “Fair and Effective Markets Review” wat op 10 Junie vrygestel word. Een van die doelwitte hiervan is om ‘n een-vormige benadering van die regulering van alle finansiële markte te bevorder en daar word algemeen verwag dat die “Review” sal aanbeveel dat die sogenaamde FICC-markte (vaste inkomste, geldeenhede en kommoditeite) onderwerp word aan ‘n soortgelyke ondersoek as vir die aandelemark (onder meer die verbanning van praktyke soos binnekringhandel en voorspringery deur alle markte) en om die magte van finansiële reguleerders te versterk om boetes op te lê op finansiële instellings wat hulle aan wangedrag skuldig maak. Die BIS het verder ook aangekondig dat hy besig is om ’n nuwe gedragskode vir valutaverhandeling te orkestreer.

Dit sou dus vir die Suid-Afrikaanse owerhede raadsaam wees om die verwantskap tus-sen die MK se ondersoek na valutahandel en die werk van die te stigte FSCA uit te klaar om verdere beleidsverwarring te voorkom.​

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam