Dit sal ook onaanvaarbaar wees as die pogings van die ministeriële komitee om staatsuitgawes te besnoei, verydel word deur die uitkoms van die komende loononderhandelinge. Die gebruik om verhogings wat inflasie oorskry aan staatsamptenare toe te ken bo en behalwe die outomatiese kerfverhogings wat die meeste staatsamptenare ontvang, sal tot ‘n einde moet kom. Outomatiese kerfverhoging sal óf geskrap óf by loonskikkings ingesluit moet word.
Dit is onverdedigbaar vir lone in die openbare sektor om voortdurend te styg teen ‘n koers wat hoër is as dié in die privaat sektor, wat die meerderheid van belastingbetalers uitmaak4. By implikasie sal belastingkoerse op lang termyn verhoog moet word om die oordrag van koopkrag van werkers in die privaat sektor na werkers in die openbare sektor te finansier. Dit is ook op plaaslike regeringvlak van toepassing.
Die grootste uitdaging vir die ministeriële komitee is die noodsaak om meer met minder te doen, dit wil sê om dieselfde dienste teen ‘n laer eenheidskoste te lewer. Daar word byvoorbeeld dikwels (soos ook weer in die jongste MTBR) gesê dat maatskaplike besteding teen enige besnoeiing van staatsuitgawes beskerm sal word. Dis alles goed en wel, maar dan sal die koste van die voorsiening van maatskaplike voordele (onderwys, gesondheid, maatskaplike toelaes, ens.) verlaag moet word word, onder meer deur die oordeelkundige gebruik van tegnologie.
Soos uitgespel in die MTBR se bespreking van vergoeding in die openbare sektor, moet ‘n mens egter nie onderskat hoe moeilik dit is om die loonrekening in arbeidsintensiewe funksies/departmente te verminder nie. Die beste benadering sou dalk wees om laeprioriteitsfunksies in die geheel te skrap (of te privatiseer) eerder as om kritieke funksies te verswak.
Dit sal ook die taak van die ministeriële komitee wees om die kabinet te oortuig dat daar nie ruimte vir nuwe beleidsinisiatiewe is nie. Soos in die MTBR erken, sal enige nuwe inisiatiewe met ‘n belastingverhoging gepaard moet gaan, hetsy deur bestaande belastingkoerse te verhoog of deur ‘n uitbreiding van die belastingbasis deur die instelling van nuwe belastings. In dié verband is die werk van die Davis Belastingkomitee van die uiterste belang om te verseker dat enige veranderinge in die belastingstelsel nie die groeipotensiaal van die ekonomie verder ondermyn nie. Dit is ironies dat toe die Davis Komitee in die lewe geroep is dit beklemtoon is dat die doel van die komitee nie was om belastings te verhoog om die tekort in staatsbefondsing aan te vul nie!
In die huidige omgewing van voortgesette rapportering van uitermatige verkwisting met staatsuitgawes, hetsy in die vorm van ongemagtigde besteding, manipulasie van tenderprosesse, of blatante korrupsie, is dit duidelik dat die moraal van belastingbetalers reeds verswak het. Onnodig om te sê, sal enige verhoging van die belastinglas uiters swak ontvang word.
1 Nominale BBP vir 2016 was net 2% laer as wat aanvanklik in die 2013 MTBR voorspel is.
2 Volgens die MTBR het die regering se loonrekening tussen 2008/2009 en 2016/2017 teen ‘n nominale koers van 10,3% per jaar (4,1% in reële terme) gestyg, terwyl nominale BBP gemiddeld teen 7,9% per jaar gegroei het. Reële gemiddelde vergoeding per werknemer het met 3% per jaar toegeneem – ongeveer dubbeld die reële groeikoers van die ekonomie.
3 Volgens die MTBR het kerfverhogings en bevorderings die regering se loonrekening oor die afgelope 8 jaar met 1,5% per jaar verhoog, d.w.s. kumulatief met 12,65%.
4 “… public servants tend to receive higher remuneration than taxpayers in general at every point of the distribution up to the 90th percentile.” - 2017-MTBR.