Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Voordat ons egter te mismoedig raak hieroor, is dit die moeite werd om daarop te let dat Suid-Afrika nogtans beter vaar as sommige van die ander kommoditeitsuitvoerlande, bv. Brasilië en Rusland, wat in resessie is. Trouens, dit is merkwaardig dat Suid-Afrika se groeikoers steeds positief is, selfs al is dit slegs 1,5%, ondanks al die struikelblokke wat in die pad daarvan staan – wat weereens die welbekende lewenskragtigheid van die ekonomie (of meer spesifiek die privaat sektor) weerspieël.

Die ironie is dalk dat omdat Suid-Afrika weens beleidsmislukkings, en later onstabiele arbeidstoestande, nie ten volle deelgeneem het aan die kommoditeitsupersiklus in die vroeë 2000’s nie, dit nou in mindere mate die negatiewe impak van die afswaai in kommoditeite voel. Alhoewel daar in 2006-2008 wel groter belegging in die mynbousektor was, het dit nie met enige beduidende uitbreiding in produksiekapasiteit gepaardgegaan nie en het die primêre sektor se bydrae tot die ekonomie verder afgeneem.

In die dekade tot 2010 het die primêre sektor bykans geen bydrae tot groei in bruto toegevoegde waarde gelewer nie en kumulatief met slegs 4% uitgebrei in vergelyking met groei van 41% in die ekonomie in die geheel. Trouens, in die dekade tot 2010 het die bruto waarde wat deur veral die mynbousektor toegevoeg is in vyf uit die 10 jaar gedaal en ‘n kumulatiewe daling van 0,2% vir die tydperk aangeteken. In nominale terme het die sektor egter uit die aard van die saak voordeel getrek uit hoër kommoditeitspryse.

Die versigtige fiskale beleid wat Suid-Afrika toe gevolg het deur nie die belastingoorskryding te vermors nie, het die nodige ruimte geskep vir die ekspansionistiese beleid wat aanvaar is nadat die ekonomie in 2009 in resessie gegaan het, selfs al is daardie ruimte nie optimaal benut nie (en in hoofsaak die vorm van ‘n ontploffing in die regering se loonrekening aangeneem het), met min langtermynvoordeel vir die ekonomie.

Die gevaar is dat ons maklik oorgerus kan raak oor ons gebrek aan groei en dit kan toeskryf aan swak ekonomiese toestande wêreldwyd wat buite ons beheer is, of die elektrisiteitsprobleem wat mettertyd opgelos sal word en ons in staat sal stel om soos gewoonlik te groei. Met ander woorde, ons moet net terugsit en geduldig wees totdat die probleem homself oplos. So ‘n houding sal egter nie deug nie, omdat dit sal veroorsaak dat ons die fundamentele gebreke in ons benadering tot groei uit die oog verloor.

Die sterk korrelasie tussen die Suid-Afrikaanse konjunktuursiklus en die internasionale siklus is ‘n lank bestaande kenmerk van ons ekonomie wat die afwesigheid van inherent onafhanklike groeidinamika in die ekonomie aantoon. Dit is iets waaraan doelbewus aandag gegee moet word omdat dit ‘n belangrike oorsaak van ons geskiedenis van hortende groei is. Die swak vooruitsigte vir die wêreldekonomie, bv. soos uiteengesit in die IMF se onlangse World Economic Outlook, maak hierdie doelwit selfs meer dringend.

Suid-Afrika kan en behoort homself vanselfsprekend nie van die wêreldekonomie af te sonder nie. Dit sal hom beroof van ‘n voor die hand liggende kanaal om sy groeikoers te verbeter. In wêreldverband is Suid-Afrika egter klein genoeg om ‘n nisstrategie te volg wat die ekonomie ten minste gedeeltelik kan verskans teen negatiewe verwikkelings op ‘n internasionale vlak.

Dat Suid-Afrika se ekonomiese welstand van die kommoditeitsiklus afhanklik bly, is ‘n aanduiding van sy onvermoë om sy ekonomie te moderniseer en te diversifiseer. Dit is problematies dat uitvoerverdienste steeds hoofsaaklik van natuurlike hulpbronne kom ondanks die feit dat die primêre sektor se bydrae tot BBP van 27% in 1970 tot 10% tans afgeneem het en steeds daal.

‘n Verandering in uitvoerfokus is onder meer nodig indien Suid-Afrika verder voordeel wil trek uit sy verhouding met China, selfs al is die geloofwaardigheid van laasgenoemde se amptelike groeistatistiek onder verdenking. Die langverwagte herbalansering van die Chinese ekonomie vanaf onvolhoubare hoë investering na groter staatmaking op verbruik as aandrywer van groei dui op ‘n soortgelyke herbalansering in Chinese invoere vanaf kommiditeite na verbruikersgoedere en dienste. Die uitdaging vir Suid-Afrika is om by die Chinese herbalansering aan te pas deur sy uitvoersamestelling dienooreenkomstig te verander.

Maar daar is talle sogenaamde “sagte” kwessies wat groei belemmer en wat daarop uitloop dat volgehoue hoë groei duidelik nie ‘n beleidsprioriteit vir die Suid-Afrikaanse regering is nie. Hul fokus is op die herverdeling van die vrugte van die groei wat wel behaal word eerder as op die maksimalisering daarvan, en op die transformasie van die ekonomiese landskap volgens politieke voorkeure sonder inagneming van die implikasies daarvan vir groei.

Byvoorbeeld, sedert Joseph Schumpeter se stelling dat entrepreneurs die hoofaandrywer van ekonomiese ontwikkeling is, word algemeen aanvaar dat regerings ‘n gunstige omgewing vir entrepreneurskap behoort te skep en hulle nie te verset teen die proses van “kreatiewe vernietiging” wat onlosmaaklik deel van ‘n dinamiese ekonomie is nie. Maar Suid-Afrika se beleid van swart ekonomiese bemagtiging doen presies die teenoorgestelde deur die invloed daarvan op aansporingstrukture.

Swart sakepersone word aangemoedig om aanspraak te maak op mede-eienaarskap van ‘n bestaande besigheid (hoe groter en meer gevestig, hoe beter) eerder as om dit te waag om hul eie ondernemings te begin, terwyl potensiële wit entrepreneurs rekening moet hou met die vereiste om hul sukses met swart vennote te deel ondanks die feit dat hulle die volle oprigtingsrisiko moet dra (geen soortgelyke vereiste is op potensiële swart entrepreneurs van toepassing nie).

Die gebrek aan dringendheid om ekonomiese groei te bevorder, word verder geïllustreer deur die kontras tussen die energie en ywer wat aan maatskaplike en herverdelingsbeleidsinisiatiewe gewy word (bv. nasionale gesondheidsversekering en ‘n nasionale minimum loon), vergeleke met die afwesigheid van kragdadige optrede om die strukturele beperkings wat jare lank reeds die ekonomie belemmer, uit die weg te ruim. Dit sluit onder meer in die onderwyskrisis, arbeidsmarkonstabiliteit en onbuigsaamheid (in dié sin dat lone dikwels nie produktiwiteit weerspieël nie en die mobiliteit van die arbeidsmag veel te wense oorlaat), en swak lewering van dienste en infrastruktuur.

Om die groei te behaal wat nodig is om die uitdagings van werkloosheid en armoede die hoof te bied, sal Suid-Afrika ‘n beter balans tussen groei aan die een kant en transformasie en herverdeling aan die ander kant moet vind. Die manier waarop hy poog om sy transformasiedoelwitte te bereik om ‘n omgewing te skep waarin entrepreneurskap en inisiatief ryklik beloon word, sal ook heroorweeg moet word.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam