Instellings en politieke mag
Ekonomiese instellings word deur die gemeenskap geskep, en die politiek is die proses waardeur die reëls waarvolgens die gemeenskap funksioneer, neergelê word. Die verspreiding van politieke mag is dus kritiek – wanneer daar ‘n konflik oor instellings is, sal die wenner deur die verspreiding van mag in die gemeenskap bepaal word.
In die geval van absolutistiese politieke instellings kan diegene wat die mag het hul mag gebruik om instellings tot stand te bring om hulself ten koste van die gemeenskap te verryk. Wat volgens A&R veral kommerwekkend is, is dat politieke instellings die elite wat politieke mag beheer in staat stel om ekonomiese instellings met min beperkings of teenmagte te kies. Dit stel die elite ook in staat om toekomstige politieke instellings en die ontwikkeling daarvan te struktureer. Ekstraktiewe ekonomiese instellings verryk op hul beurt dieselfde elite, en hul ekonomiese welvaart en mag help om hul politieke oorheersing te konsolideer. Kortom, die mag van selfvoortsetting is in ekstraktiewe politieke en ekonomiese instellings veranker.
In teenstelling hiermee kan pluralistiese politieke instellings wat mag wyd in die gemeenskap versprei en dit aan beperkings onderwerp, maar wat terselfdertyd voldoende gesentraliseer is om doeltreffend te wees, as inklusief beskou word. Inklusiewe politieke instellings is op hul beurt ‘n voorvereiste vir stabiele, volhoubare, inklusiewe ekonomiese instellings.
Dit is duidelik dat ekstraktiewe ekonomiese en politieke instellings nie bevorderlik vir ekonomiese vooruitgang is nie. Ekstraktiewe politieke instellings met sterk gesentraliseerde mag kan ‘n tyd lank met hoë groeikoerse gepaardgaan, maar dit is op lang termyn nie volhoubaar nie, onder meer as gevolg van binnegevegte oor die buit. Inklusiewe ekonomiese instellings ondersteun nie ekstraktiewe politieke instellings nie en word nie daardeur ondersteun nie.
Die probleem is dat dit nie in belang van die magtige elite is om ten volle inklusiewe instellings te skep wat waarskynlik hul mag en hul vermoë om voordeel uit ekstraktiewe instellings te trek, sal verminder nie. Met ander woorde, weens die natuurlike verband tussen ekonomiese groei en inklusiewe instellings sal sodanige elite nie ontvanklik wees vir beleidsrigtings wat tot hoër ekonomiese groei sal lei nie. Die aansporings om die proses van kreatiewe vernietiging te aanvaar wat ‘n inherente deel van ekonomiese groei en ontwikkeling uitmaak, wat dikwels die gevolg van tegnologiese verandering is, is net nie daar nie. Ekstraktiewe instellings sal ook nie die aansporings bied vir mense om te spaar, te belê en te innoveer nie.