Om mee te begin is die vereiste bykomende bedrag nie groot nie. Volgens die 2014
Mediumtermynbegrotingbeleidsverklaring sal “minstens R12 miljard in 2015/16, R15 miljard in
2016/2017 en R17 miljard in 2017/2018 deur beleids- en administratiewe hervormings verkry word”.
Dit beloop minder as 0,5% van BBP in elke jaar en indien belastinginvordering beter as verwag
verloop, soos so dikwels in die verlede, kan selfs hierdie betreklik klein bedrae verder verlaag word.
Trouens, weens die noodsaaklikheid om staatskuld te stabiliseer en mettertyd skuld as ‘n persentasie
van BBP te verminder, kan die verhoging van belastings met ietwat meer as hierdie bedrae
geregverdig word. Ek het voorheen aangevoer dat ‘n belastingverhoging van 1 - 2% van BBP nodig is
om die primêre begrotingsaldo vinniger in ‘n beduidende surplus te verander wat die skuldverhouding
teen ‘n aanvaarbare pas sal verklein.
Hierdie betreklik klein bedrae dui ook daarop dat dit nie nodig is om enigiets drasties te doen wat
toekomstige belastingbeleid in gedrang bring nie – ons wag immers op die finale verslag en
aanbevelings van die Davis-belastingkomitee. Dit was dus vir die Nasionale Tesourie onvermydelik om met die Davis-komitee oorleg te pleeg soos wat hulle gedoen het om laasgenoemde se insette oor moontlike belastingwysigings te verkry ten einde teenstrydighede in benadering te vermy.
Dit is ook waarom ek glo dat ‘n verhoging van die BTW-koers nie te wagte is nie. ‘n Verhoging van ‘n
halwe persentasiepunt sal bykomende inkomste van ongeveer R10 miljard beteken en dit kan dus
grotendeels die inkomstegaping dek, met ‘n klein aanpassing van die brandstofheffing om die res van
die R12 miljard te voorsien. Die verwysing na “administratiewe hervormings” in die
Mediumtermynbegrotingbeleidsverklaring dui ook op verdere pogings om belastingnakoming te
verbeter en sodoende die bedrag wat ingevorder word te vermeerder sonder om belastingkoerse te
verhoog of nuwe belastings in te stel.
Maar ten einde die progressiwiteit van die belastingstelsel te bewaar en ‘n BTW-verhoging polities
aanvaarbaar te maak, sal enige verhoging van BWT heel moontlik gepaard moet gaan met ‘n
verhoging van inkomstebelasting op individue in die hoërinkomstegroep. (Dit is nogtans die moeite
werd om daarop te let dat die Wêreldbank, in ‘n studie oor fiskale beleid en herverdeling in Suid-Afrika
wat in November 2014 verskyn het, verrassend bevind het dat BTW progressief is en dat die deel van
besteebare inkomste wat aan BTW betaal word net minder as 9,5% van die besteebare inkomste van
die armste tiende van die bevolking beloop vergeleke met nagenoeg 12% van die besteebare
inkomste van die rykste tiende.)
Maar is die ongunstige politieke reaksie wat ‘n verhoging van die BTW-koers vir so min voordeel
ongetwyfeld sal ontlok regtig die moeite werd? Sou dit nie beter wees om die kruit met betrekking tot
BTW droog te hou met die oog op die befondsingsbehoeftes van die voorgestelde Nasionale
Gesondheidsversekeringstelsel nie? Dit sal stellig baie makliker wees om ‘n verhoging van die BTWkoers
te motiveer om ‘n belangrike nuwe beleidsinisiatief te finansier wat die armes proporsioneel
meer as die rykes sal bevoordeel.