10 Junie 2019
Met so ’n besluit help dit om weer te kyk na die rede waarom u oorspronklik u uitkeerpolis aangegaan het. As u doelwit byvoorbeeld welvaartskepping was – en nog is – moet u u opsies vergelyk en besluit watter een u sal help om die meeste welvaart oor die lang termyn op te bou.
As u byvoorbeeld oorweeg om u uitkeerpolis te kanselleer en die opbrengs te gebruik om u verband af te betaal, moet u kyk na die rente wat u op u verband betaal en dit vergelyk met die opbrengs wat u verwag om op u uitkeerpolis te verdien (wat afhang van waar die onderliggende fondse belê is).
Hierdie soort vergelyking moet belastingaanspreeklikheid in ag neem, omdat die lewensversekeringsmaatskappy namens uitkeerpolishouers inkomstebelasting betaal. U kry dus ’n nabelaste opbrengs op u uitkeerpolis. Indien u u uitkeerpolis voor die uitkeerdatum in kontant omsit is, moet u ook boetes in ag neem wat van toepassing kan wees by vroeë beëindiging.
In hierdie geval hang die beste besluit af van u persoonlike omstandighede. Dis altyd raadsaam om ’n vertroude finansiële adviseur se hulp in te roep.
Soos vroeër genoem, kan vroeë beëindigingskoste van toepassing wees. Verskillende uitkeerprodukte het verskillende minimum beleggingstermyne. U moet dus nagaan watter koste op u spesifieke polis van toepassing is. Vroeë beëindigingskoste is byvoorbeeld net gedurende die eerste twee jaar na aanvang van toepassing op sekere van Sanlam se nuwe-generasiepolisse.
Verder bied sekere ou-generasiepolisse risikovoordele wat u kan verloor. Daar is ook potensiële waarborge om in ag te neem. As u byvoorbeeld op ’n geldterug-waarborg geregtig is wanneer u polis uitkeer, onthou net – hoe minder u insit, hoe minder kry u terug.
Kyk ook na die belastingimplikasies. Met ’n uitkeerpolis betaal die lewensversekeringsmaatskappy namens u inkomstebelasting teen 30%. Dit kan vir u ’n belastingdoeltreffende opsie wees indien u marginale belastingkoers hoër as dit is en u reeds u belastingvrystellings gebruik het of die maksimum tot ’n belastingvrye spaarrekening bygedra het. En wanneer u uitkeerpolis uitkeerbaar word, hoef u nie belasting op enige onttrekkings te betaal nie. Met die kansellasie van u uitkeerpolis voor die uitkeerdatum sal u dus die voordeel verloor van ’n uiters buigsame, belastingdoeltreffende spaarproduk wat u onbeperkte toegang gee tot geld – in die vorm van ’n enkelbedrag of gereelde onttrekkings – wat in u hande belastingvry is.
Ten slotte, as u nie uitkeerpremies het om te betaal nie, kan u spaardissipline dalk in die slag bly. Dit is dus nodig dat u oorweeg watter uitwerking u besluit op u langtermynspaardoelwitte sal hê. U kan byvoorbeeld die bedrag geld wat u vir u uitkeerpremies gebruik het, in ’n ander spaaropsie belê.
As u nie langer kan bekostig om u maandelikse premies te betaal nie, kan u u polis “opbetaald” maak. Dit beteken u hou u uitkeerpolis op Sanlam se boeke, maar u betaal nie meer maandelikse bydraes nie. Die fondse wat u in u uitkeerproduk opgebou het, sal steeds saamgestelde rente verdien tot op die uitkeerdatum.
Kosteheffings kan van toepassing wees wanneer u ophou premies betaal, maar dit is gewoonlik laer as die koste wanneer die produk heeltemal beëindig word. Met hierdie opsie kan u u huidige uitkeerbelegging behou en die bedrag wat u tot u maandelikse premies sou bydra elke maand in u verband inbetaal.
Die beste benadering is uiteindelik om met u finansiële adviseur te gesels vir persoonlike leiding.