Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Herwin Finansiële Beheer met Risikodekking

8 Februarie 2021

Om beheer oor ons finansies te herwin, vereis ’n holistiese siening van ons finansiële verantwoordelikhede – en ons finansiële potensiaal.

Wanneer ons wêreld ontwrig word en ons beheer verloor, moet ons eers weer finansiële beheer verkry deur na ons begroting terug te keer. Wanneer ons daarmee gemaklik is en weer daardie gewoonte aangeleer het, is die volgende gewoonte om beheer oor ons spaarpoging te herwin.

Die derde area van beheer het met beskerming te make: risikodekking.

Ongeag of dit minder belangrike gesondheidsaandoenings of permanente ongeskiktheid en dood is, ons het ’n reeks bestuurshulpmiddels tot ons beskikking om toekomstige verdienpotensiaal te bewaar en ons en ons geliefdes te beskerm.

Talle individue is finansieel, ekonomies en sielkundig deur die coronavirus geraak en dit is noodsaaklik dat ons weer na ons risikodekking kyk. In moeilike tye is die versoeking groot om risikobeskerming te verminder of te kanselleer as a manier om te bespaar. Dit kan egter later ’n domino-effek hê met betrekking tot bekostigbaarheid en versekerbaarheid.

Net soos ’n begroting ’n uitbreibare hulpmiddel, en nie beperkend nie, moet wees, behoort risikodekking beskou te word as ’n bemagtigingsbesluit eerder as ’n teësinnige aankoop wat op vrees gegrond is.

Ons moet onsself afvra, “As ek weens ’n gesondheidsnoodgeval vir ’n paar maande nie kan werk nie, hoe gaan ek my finansiële verpligtinge nakom?” Of ons ’n angswekkende diagnose kry en of ons in ’n motorongeluk is, ons gereelde rekeninge moet steeds betaal word bo en behalwe enige betalings vir prosedures en behandelings.

Ons kan na risikodekking in terme van gesondheidsdekking, ongeskiktheidsdekking en lewensdekking kyk. Binne elkeen van hierdie risikosektore het ons verskeie produkte om bepaalde aspekte van ons welvaart en welsyn te beskerm.

Vir gesondheid het ons produkte soos gapingdekking, ’n korttermynversekeringsproduk wat daarop gemik is om tekorte te dek wat ten opsigte van uitgawes vir prosedures in die hospitaal aangegaan word. Gapingdekking is ’n uitstekende aanvulling vir mediese dekking om fooie te betaal wat deur gesondheidsorgverskaffers gevra word en hoër is as die fooie wat ons mediese skema betaal.

Permanente ongeskiktheid kan deur enkelbedrag-ongeskiktheidsdekking gedek word. Dit bied ’n enkele kapitaaluitbetaling en word oor die algemeen gebruik om te verseker dat jy jou finansiële verantwoordelikhede kan nakom indien jy fisiek ongeskik raak.

Eweneens het ons lewensversekering wat ontydige dood dek en ’n enkelbedrag aan jou begunstigdes uitbetaal. Lewensdekking word oor die algemeen aangewend as ’n manier om te verseker dat jou huislening en ander skuld betaal kan word.

Dit is slegs drie van ’n menigte produkte wat onder die benaming risikodekking val. Ander produkte sluit mediese bystand, gevreesdesiektedekking, inkomstebeskerming en meer in. Alhoewel dit morbied kan wees om aan hierdie produkte te dink, verskaf hulle bevestiging en ’n gevoel van gerusstelling dat ons vir die mees traumatiese gebeurtenisse gedek is. Onthou, versekering kan ’n tegniese mynveld wees met bedryfsjargon wat van versekeraar tot versekeraar verskil.

As jy hulp nodig het om jou dekking te prioritiseer en te verseker dat jy vir die regte risiko gedek is, gesels nog vandag met ons.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam