Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Diversifikasie in Finansiële Beplanning

13 January 2021

Die idee dat jy iets verniet kan kry, is vir ’n ekonoom feitlik ondenkbaar.

Wel dit was, totdat Harry Markowitz, die vader van Moderne Portefeuljeteorie en ’n ekonoom wat die Nobelprys verower het, bewys het dat ’n gediversifiseerde portefeulje ’n beter prestasie teen minder risiko as individuele bateklasse kan behaal. Hy noem diversifikasie “the only ʻfree lunch’” (“die enigste ʻpasella middagete’”) in die finansiewese.

Soms kom ons die algemene wanopvatting teë dat om ’n verskeidenheid aandele te besit, beteken dat jy goed gediversifiseerd is. Maar wanneer ons van diversifikasie praat, bedoel ons gewoonlik die besit van ’n verskeidenheid bateklasse.

Elke bateklas het verskillende eienskappe en voordele, soos verskillende risiko-/beloningsprofiele, koste en tydhorisonne, wat met die bestuur van jou algehele risiko kan help. Hierdie bateklasse is kontant, effekte, fondse, aandele en eiendom. Namate jou ouderdom, doelwitte en risiko-aptyt verander, sal jy waarskynlik die bedrag wat jy in elke bateklas belê het, wil aanpas.

Belegging in ’n verskeidenheid aandele is ’n goeie manier om binne daardie bateklas te diversifiseer. Ideaal gesproke behoort jy in aandele oor verskillende bedrywe en sektore te belê. Aangesien die verskillende sektore nie teen dieselfde pas presteer nie, bied dit verskansing vir jou portefeulje.

Baie voornemende beleggers wag op die perfekte tyd om tot die mark toe te tree of totdat hulle ’n groot bedrag geld het om te belê. Die saak staan egter so dat jy vroeg en dikwels behoort te belê om op langtermyn voordeel uit die mag van samestelling te trek.

’n Jaarlikse belegging van R10 000 oor 5 jaar en ’n jaarlikse belegging van R2 000 oor 25 jaar lewer dieselfde totale bydrae van R50 000. Ondanks dieselfde bydrae toon die belegging oor 25 jaar egter ’n opbrengsverskil van nagenoeg R100 000.

Een van die eerste dinge wat ’n mens leer wanneer jy aan ’n georganiseerde spansport deelneem, is om in jou posisie te speel. As al die spelers die bal najaag, laat hulle die veld agter hulle wawyd oop. Diversifikasie stel ons in staat om oral op die veld te speel, ons posisies te dek, en met die bal te hardloop wanneer dit na ons kant toe kom.

Ons span by SFP is met sorg gekies en ons taak is om diversifikasiestrategieë wat op ’n internasionale vlak aan die beste gelykstaande is, te skep en toe te pas. Dit help ons kliënte, en ons beplanners, om die enigste ‘free lunch’ in die finansiewese te geniet.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam