Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Herwin Beheer van Jou Begroting

8 Februarie 2021

Verlede jaar was finansieel gesproke ’n deurmekaar jaar wat baie individue kwesbaar laat voel het.

Een van ons hooftake by SFP is om ons kliënte volle beheer oor hul finansiële reis te gee. Met dit in gedagte wy ons dié maand ons blogs toe aan die ondersoek van drie teikenareas wat jou kan help om finansiële beheer te herwin.

Vandeesweek kyk ons na die berugte begroting. Dit is al van saai tot vervelig beskryf, maar die voordele van ’n goed saamgestelde maandelikse begroting is te veel om te ignoreer. ’n Begroting stel ons in staat om te sien waar geld elke maand vandaan kom, hoeveel daar is, en waarheen dit gaan.

’n Begroting word dikwels as beperkend beskou. Dit behoort egter net beperkend te wees op maniere wat nie in ooreenstemming met ons finansiële doelwitte is nie. Op korttermyn verseker ’n begroting dat ons nie geld uitgee wat ons nie het nie en dat ons ons slegte bestedingsgewoontes in toom hou. Op langtermyn help dit ons om voorsiening vir onvoorsiene uitgawes te maak en ’n beter verhouding met ons geld te hê.

Hier is ’n paar grondbeginsels om jou op jou begrotingsreis te help.

Wees eerlik

In wese werk ’n begroting net as ons eerlik omtrent ons inkomste en uitgawes is. Vir ’n begroting om ’n nuttige finansiële hulpmiddel te wees, moet ons bereid wees om met gedetailleerde en akkurate inligting oor ons verdienste én ons besteding te werk. Om dit te doen, moet ons soveel onlangse finansiële papierwerk moontlik (bankstate, kredietkaartrekeninge, kwitansies vir die afgelope drie maande, ensovoorts) bymekaarkry. Hoe meer inligting ons het, hoe meer noukeurig sal ons gemiddelde maandelikse berekeninge wees.

Koester realistiese verwagtinge

As jy ’n onrealistiese begroting opstel, is jy tot mislukking gedoem. Op grond van hul bestaande lewenstyl stel party mense doelwitte wat te laag is. As jy voel dat jy nooit by jou begroting hou nie, sal jy nie lus voel om die praktyk voort te sit nie. Baie van ons onderskat hoeveel ons werklik aan sekere luukses bestee. Geriefskos is ’n groot sondaar!

Moenie jouself ’n bietjie pret ontsê nie

As jy ’n nulbegroting vir vermaakdoeleindes het, gaan jy daardie “Ek verdien ’n blaaskans”-oomblik beleef. ’n Gevoel van ontneming kan tot gevolg hê dat jy jou aan besteding vergryp. Dit is beter om ’n toegedeelde bedrag (ongeag hoe min) te hê waarby jy kan bly.

Alhoewel jy pen en papier kan gebruik om jou begroting op te stel, is baie moderne (tegnologie-slim) benaderings makliker en meer doeltreffend in die praktyk. Daar is talle begrotingsapps en sigblaaie met aangegewe kategorieë en ingeboude formules wat jy kan aflaai.

As jy advies of hulp met jou begroting verlang, gesels vandag nog met ons.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam