Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Hoe om Jou Bates voor ’n Egskeiding te Beskerm

David Thomson, 7 Maart 2019

Jy het die liefde van jou lewe gevind en julle beplan om dit amptelik te bevestig. Hoewel dit nooit lekker is om te dink aan ’n toekoms waar julle nie saam gaan wees nie, is dit altyd ’n goeie idee om vir die ergste moontlikheid te beplan. Voordat jou emosies jou finansiële besluite benewel, lees hierdie paar riglyne om jou bates te beskerm, ongeag wat gebeur.

’n Jong paartjie wat verlief is en positief voel oor die toekoms, sal beslis nie aan egskeiding dink wanneer hulle ’n troue beplan nie. Ongelukkig gebeur dit in baie gevalle nie dat die paartjie “lank en gelukkig saamleef” nie. Die harde werklikheid is dat 40% van huwelike voor die 10de herdenking in die skeihof beland.

Een van die neteligste aspekte van egskeiding is die finansiële implikasies daarvan – wat tot astronomiese regskoste kan lei in die geval van ’n egskeiding wat betwis word. Daarom is dit wys dat verloofdes tydens die beplanning van die troue tyd inruim om ’n huweliksvoorwaardekontrak (HVK) op te stel, wat in oorleg met ’n notaris (’n spesialisprokureur) gedoen moet word.

Wat Jy Moet Weet

  • ’n HVK bepaal wie wat besit, en watter bates elke gade in die huwelik inbring.
  • In die geval van egskeiding sal hierdie kontrak help om die meeste finansiële kwessies op te los.
  • Dis nie duur nie, en die voordele is baie groter as die koste – jy kry gemoedsrus in die wete dat jou bates in die geval van ’n egskeiding beskerm is.
  • ’n HVK móét voor die troudag opgestel en geteken word.

Wat Gebeur as Julle nie Getroud is nie?

Indien jy en jou maat beplan om in ’n permanente verhouding saam te leef, maar nie van plan is om te trou nie, kan jy nog steeds jou bates beskerm deur ’n prokureur te vra om ’n saamwoonooreenkoms tussen julle op te stel. Op dié manier kan julle bepaal wie wat besit en die bates verdeel indien jul verhouding tot ’n einde kom.

As Jy wel Wkei, Oorweeg Sorgvuldig Jou Finansiële Situasie

Egskeiding is ’n uiters traumatiese gebeurtenis. Probeer egter koelkop bly met al die finansiële besluite wat jy moet neem.

As jy jou ooit in so ’n situasie bevind, beveel David Thomson, Senior Regsadviseur by Sanlam Trust, aan dat jy die groter geheel in gedagte hou as jy na jou finansiële situasie kyk en besluite neem.

“Indien jy skei en volgens wet geregtig is op ’n deel van jou gade se aftreegeld, dink weer as jy hierdie geld as ’n ‘meevaller’ beskou wat jy kan uitgee. Onthou eerder dat dit aanvanklik bedoel was om vir ’n gerieflike aftrede voorsiening te maak. Julle sal waarskynlik ook moet dink aan die koste om twee huishoudings aan die gang te hou, wat uitgawes oor die kort termyn kan laat toeneem,” sê hy.

Hulp is Byderhand

Met soveel belangrike finansiële besluite wat jy moet neem, is dit die moeite werd om ’n professionele finansiële adviseur te raadpleeg, wat jou kan help om jou nuwe lewenskoste te bereken en sorgvuldig vir jou finansiële behoeftes oor die kort, medium en lang termyn te beplan.

Watter keuses jy ook al maak, is dit uiters belangrik om jou hele situasie hiervoor in ag neem – jou lewenskoste vandag en jou aftreebehoeftes in die toekoms.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam