Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Omskakeling Is Nie Altyd die Oplossing Nie

7 April 2021

Omskakeling gebeur wanneer ’n belegger besluit om geld van een belegging na ’n ander oor te dra.

Hierdie proses kan die verskuiwing van geld tussen effektetrusts met verskillende strategieë, die omskakeling na ander aandeleklasse, of die hertoedeling van ’n portefeulje behels. Dit kan soms sin maak om hierdie opsie uit te oefen wanneer behoeftes of omstandighede verander, maar ons moet altyd ’n omsigtige benadering volg wanneer ons omskakeling oorweeg.

Omskakeling tussen fondse in ’n poging om jou opbrengs te verbeter, kan ’n groot versoeking wees. Party beleggers skakel om ten einde die regte tyd vir die styging en daling van elke fonds se prestasie te probeer bepaal. Weens die onvoorspelbare aard van markbewegings op korttermyn is dit egter baie moeilik om marktydberekening suksesvol toe te pas. Navorsing het bewys dat omskakeling meestal waarde vernietig.

Omskakeling wanneer die waarde van ’n belegging verminder het, kan die slegste tyd wees om ’n transaksie aan te gaan omdat jy jou verliese vaslê. ’n Ander rede om nie tussen fondse om te skakel nie is dat die verkoop van onderaandele kapitaalwinsbelasting tot gevolg kan hê. Die fondse waarheen jy omskakel, kan ook aanvangsgelde vra. Hierdie korttermynkoste kan aanvaarbaar lyk vir ’n belegger wat in ’n nuwe fonds wil belê, maar kan vinnig oploop, en gereelde omskakeling kan ’n groot rem op langtermynopbrengs veroorsaak.

Wanneer ’n fonds ’n tydperk van relatief swak prestasie beleef, is dit maklik om te dink “die gras is altyd groener aan die ander kant”. Maar ons moet met ons kop dink en nie ons hart nie. Die verkoop van ’n effektetrust wat oor ’n kort tydjie swak gevaar het, is dikwels ’n emosionele reaksie, en emosionele omskakeling vernietig gereeld opbrengs.

Wanneer is dus ’n goeie tyd vir omskakeling?

Die algemeen aanvaarde tyd vir omskakeling is nadat jy jou navorsing gedoen het. Alle fondse ervaar tydperke van goeie en swak prestasie. Hoe meer goeie tydperke daar is, hoe beter is die fonds; omskakeling uit een van hierdie fondse gedurende ’n swak tydperk is gewoonlik nie ’n goeie idee nie omdat jy die daaropvolgende tydperk van verbeterde prestasie sal misloop. Andersyds, as jy van mening is dat ’n fonds voortdurend onderpresteer, is omskakeling dalk nie ’n slegte idee nie. Die enigste natuurlike manier om te weet, is om jou navorsing te doen (raadpleeg jou adviseur) en nie marktydberekening te probeer toepas nie.

Kyk na jou fonds se prestasie teen die agtergrond van sy doelwitte. As jy belê is in ’n hoëgroeifonds wat wisselvalligheid verwag, behoort jy jou nie te bekommer as daar ’n mate van waardevermindering is nie. Maar as die fonds se prestasie nie in ooreenstemming met sy doelwitte is nie en swakker is as die prestasie van soortgelyke fondse, is dit die moeite werd om moontlike redes vir die swak prestasie te ondersoek.

As jy jou omsigtigheidsondersoek gedoen het en omskakeling wil bespreek, laat ons jou help. Skakel ons.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam