Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Ons Beskerm Jou: Batebeskerming

19 August 2020

Batebeskerming help jou om jou bates wettiglik te beskerm. Doeltreffende batebeskerming behoort in plek te wees voordat ’n eis of aanspreeklikheid opduik, omdat dit ná die daad te laat is om enige beskerming wat die moeite werd is, in te stel.

Ons raai jou aan om korttermynversekering te gebruik om beskerming vir jou bates te bied.

Korttermynversekering kan baie toepaslik wees weens die feit dat jy dit kan uitneem vir net die tydperk wat jy dit benodig. Hierdie polisse kan enigiets van eiendoms- en huisbewoners- tot reis- en sakeversekering dek.

Wat goed is omtrent korttermynversekering is dat dit voorsiening maak vir jou behoeftes wat voortdurend verander. Dit is tipies van toepassing op bates waarvan die versekeringsbehoeftes met verloop van tyd verander. Dit is nuttig, omdat die beperkte aard van die polis buigsaamheid bied. Dit bied dekking sonder dat dit jou tot een lewenstandaard beperk. Dit stel jou in staat om jou motor op te gradeer of ’n nuwe huis te koop sonder om vir die res van jou lewe versekering op jou ou bates te betaal.

Die premies wat betaalbaar is, word bereken volgens jou individuele risikoprofiel en die waarde van die bate wat verseker word. Sê nou maar jy verseker byvoorbeeld ’n motor. Jou ouderdom, geslag, bestuursgeskiedenis, die waarde van die motor, die plek waar die motor gereeld geparkeer word en of ’n diefweertoestel in die motor geïnstalleer is, is almal faktore wat in ag geneem word wanneer die premies bereken word. Jou vorige versekeringsgeskiedenis word ook in ag geneem, en hoe gouer jy dus ’n goeie geskiedenis kan opbou, hoe beter.

Versekeringspolisse sit sekere risiko’s uiteen wat gedek sal wees indien dit eendag sou plaasvind. In dié geval sal jy gewoonlik ’n bybetaling (’n voorafbepaalde persentasie van die waarde van die bate, of ’n beperkte bedrag, afhangende van die polis) moet doen, waarna die versekeraar die res van die eis sal dek. Dit is belangrik dat jou bates korrek waardeer word omdat die versekeringspolis nie die res ten volle sal dek as jy onder- of oorverseker is nie.

Versekering kan baie spesifiek wees oor wat gedek word en jy moet goed kyk na wat jy verseker en hoe jy jou bates waardeer. Wanneer jy byvoorbeeld jou huis verseker, is daar oor die algemeen drie soorte versekering. Geboueversekering dek die fisiese struktuur van jou huis sodat dit gedek is indien herstelwerk nodig is. Huisbewonersversekering dek jou toestelle, rekenaars, klere, boeke en meubels. En versekering vir draagbare besittings (soms genoem versekering van alle risiko’s) dek daardie dinge wat gewoonlik in jou huis is maar gereeld uit die huis geneem word, soos selfone, skootrekenaars of ontwerpersonbrille.

Versekering kan tegnies raak, maar behoort nie skrikaanjaend te wees nie. Per slot van rekening bied dit vir jou beskerming. As jy dink dat jy bykomende beskerming nodig het, kontak ons.


Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam