Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Onsekerheid Kan tot Insig Lei

4 Mei 2022

Dis normaal om in tye van onsekerheid en krisis angstig of gespanne te voel. Trouens, ons besef dalk nie die volle omvang van ’n situasie as ons nie emosioneel daarby betrokke is nie. Hierdie emosies beteken nie dat ons swak is nie; dit gee ons eerder die kans om met die voordeel van ’n wyer insig ons onsekerheid te bowe te kom.

In ’n krisis word ons krag deur ons optrede, en nie ons emosies nie, bepaal.

Dis maklik om die slagoffer te word van primitiewe emosies soos paniekbevange reaksies en irrasionele besluite. As ons egter die tyd neem om te dink en na te dink, kan ons ’n beter insig en perspektief verkry, wat dit minder waarskynlik maak dat ons impulsiewe en roekelose besluite sal neem.

Soos Markus Aurelius op ’n keer gesê het, moet ons nie toelaat dat die hindernis op ons weg die weg word nie.

Alhoewel ons nie graag wil verander nie, is ons vermoë om aan te pas en ons gewoontes te verander die mens se grootste krag. Daar is geen kortpad uit ’n krisis uit nie; die beste manier om te groei en sterker te word, is om deur die situasie te volhard. Ten einde waardevolle insig te verkry, moet ons uit ons gemaksone kom.

Gelukkig pas die brein vinniger aan wanneer ons aan nuwe roetines en omgewings blootgestel word. Dit help ons om vinniger gewoontes aan te kweek en groter aansluiting by ons keuses te ontwikkel – dis hoe ons ons eie weg baan en nie toelaat dat die probleme en uitdagings in ons lewens bepaal hoe ons ons lewens lei nie.

Dis waar ons ons sterkpunte ontdek. Ons kan ’n gelukkiger lewe lei deur ons sterkpunte te identifiseer en na areas te beweeg waar ons dit kan gebruik. Alhoewel jou krisis jou lewe soos jy dit geken het, beduidend kon verander het, kan dit ook ’n geleentheid wees om daaruit te tree en ’n meer bevredigende lewe te betree.

Dis ook goed om ’n gebalanseerde siening van ons vordering te probeer handhaaf. Maar dis so maklik om vasgevang te word in die doelwit wat ons wil bereik dat dit moeilik is om te sien hoe ver ons gekom het.

Dis een van die grootste slaggate van geleidelike aanpassing; ons vergeet om agtertoe én vorentoe te kyk en kyk net na waar ons is en hoe ver ons nog moet gaan. Ons onderskat die insig wat ons reeds verkry het.

As jy sukkel om aan te pas of voel dat jy impulsiewe en roekelose besluite geneem het, kan jy seker wees dat jy die mag het om veranderinge te maak, struikelblokke te oorkom en dinge anders te doen. Mislukking én sukses kan ons groter insig gee.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam