Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Moet Ek naby Aftrede uit My Ou-generasie UA Omskakel?

7 Maart 2019

As die lid en versekerde lewe van ’n ou-generasie Sanlam Uittree-annuïteit (UA), sal u miskien wonder of u u UA-spaarportefeulje moet herstruktureer, veral wanneer u naby aftree-ouderdom is.

Verusha Ramlakhan, Hoof van Besigheidsoplossings by Sanlam, beantwoord ’n paar belangrike vrae.

Is dit die moeite werd om my ou-generasie Sanlam UA te behou?

Ja, dis beslis die moeite werd om die belegging te behou. Daar’s ’n persepsie dat ou-generasie UA’s nie waarde vir geld bied nie. Dit is egter nie noodwendig die geval met u ou-generasie Sanlam UA nie. As ’n kliënt met ’n Sanlam Reëlmatige Bonusfonds UA, kry u reëlmatige beleggingsgroei, ongeag die marktoestande. U ou-generasie Sanlam UA is ontwerp om u blootstelling aan korttermyn-markonbestendigheid te verminder, omdat Sanlam ’n deel van die opbrengste wat in tye van sterk markgroei verdien word, terughou om opbrengste in tye van swak markgroei aan te vul.

Benewens die bonusse wat reeds op die polis verklaar is, kan daar ook ingeboude beleggingswaarborge wees, wat uitstekende waarde bied wanneer u UA uitkeer. U kan hierdie voordele verbeur as u uit u huidige UA omskakel voordat die kontraktermyn eindig.

Verder het u miskien risikovoordele – soos sterfte-, ongeskiktheids- en ongeluksvoordeeldekking – indien u hierdie voordele by die aanvang van die polis gekies het. Die vervanging van hierdie voordele kan duur wees wanneer u ouer is.

En, soos met enige UA, kry u belastingbesparingsvoordele, omdat u u bydraes tot ’n UA van u belasbare inkomste kan aftrek, tot ’n gespesifiseerde perk.

Ek is naby aftrede. Wat gebeur as ek my UA-spaargeld na ’n ander fonds oordra?

As u net ’n paar jaar oor het om te werk en min tyd het om vir aftrede voor te berei, sal u miskien nie enige besluite wil neem wat die spaargeld wat u tot dusver opgebou het negatief kan raak nie. U het dalk nie genoeg tyd om moontlike verliese in te haal wat na ’n oordrag aangegaan word nie.

Dit is raadsaam om u opsies deeglik te oorweeg, met inagneming van die reëlmatige opbrengste wat u ou-generasie UA bied. U moet ook dink aan die eis- of eindbonusse wat u kan ontvang wanneer die polis uitkeer – geld wat u sal verloor indien u na ’n ander plan omskakel. Beëindigingskoste kan ook van toepassing wees met ’n oordrag uit die huidige polis, wat die waarde van u aftreespaargeld sal verminder.

Ek wil al my UA's konsolideer. Watter opsies bied Sanlam?

Terwyl die konsolidasie van al u UA-spaarfondse in een fonds u kan help om makliker na ’n na-aftredeproduk oor te skakel, moet u die voor- en nadele sorgvuldig oorweeg.

Een opsie is om u UA-spaargeld te konsolideer en in ’n Sanlam Cumulus Echo-polis te omskep. Hoewel u nie beëindigingskoste hoef te betaal nie, kan u die bykomende risikovoordele verbeur wat aan u ou-generasie UA verbonde kan wees. Indien die risikovoordele wat u in u huidige ou-generasie UA gekombineer het vir u belangrik is, het Sanlam wel opsies vir u beskikbaar om hierdie voordele met ’n beperkte mate van onderskrywing te omskep.

Anders kan u kies om u UA-spaargeld te konsolideer en na ’n Glacier-produk om te skakel. In albei situasies moet u ook seker wees dat ’n nuwe-generasie UA u risikoprofiel pas – die beste is dus om u tussenganger te raadpleeg. Nuwer produkte bied effektetrusts as opsies en daarom meer direkte markblootstelling. Om te sien hoe ’n UA-fonds se waarde daagliks wissel, is miskien nie ideaal wanneer u nader aan aftrede is nie.

Hoe kan ek seker maak ek bou welvaart op vir aftrede?

Indien ’n gladde oorgang na aftrede u risikoprofiel beter pas, behou u belegging in u ou-generasie Sanlam UA. U het al so ver gevorder op die pad – en u is amper by die eindstreep!

Indien u ’n konserwatiewe belegger is, sal u miskien nie die risiko wil aangaan om al u spaargeld na ’n nuwe-generasie UA oor te dra wat meer direkte markblootstelling het nie. Met u ou-generasie UA het u ’n reëlmatige beleggingsopbrengs, wat beteken u hoef u nie oor korttermyn-markskommelinge te bekommer nie.

As u ekstra geld het om te belê, kan u natuurlik met ’n finansiële adviseur gesels om met die byvoeging van ’n nuwe-generasie polis u aftreespaargeld ’n hupstoot te gee en u portefeulje te diversifiseer.


Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam