Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Repelsteeltjie Kan Nie Jou Plan Wees Nie

7 April 2021

In die verhaal van Repelsteeltjie gaan ’n meulenaar se dogter ’n ooreenkoms met ’n sprokieskarakter aan om groot rykdom te skep; dit is egter ten koste van haar toekomstige eerste kind.

Wanneer die mannetjie later sy skuld kom invorder, tref sy dit gelukkig om sy naam, Repelsteeltjie, uit te vind – die enigste uitkomkans wat sy gehad het om haar ooreenkoms nietig te maak.

Maar as sy nie bereid was om haar kind op te offer nie, waarom het sy dan in die eerste plek die ooreenkoms aangegaan?

In die verlede het finansiële teorie in sy modelle aangeneem dat mense rasionele wesens is, en dat hulle vry is van emosie of die uitwerking van kultuur en sosiale verhoudings. Ons weet almal dis nie waar nie. Mense is nie perfek rasioneel nie, maar uiters beïnvloedbaar – navorsing oor finansiële gedrag toon hoe sielkundige invloede en vooroordele finansiële gedrag raak.

Waarom het die meulenaar se dogter dan so ’n ooreenkoms aangegaan? Sy is emosioneel gedryf om vinnige en maklike rykdom te skep. Ons verhale kan effens meer ingewikkeld wees, maar ons kan die manier waarop ons lewens- en finansiële keuses maak, verbeter as ons van ons vooroordele bewus is.

’n Algemene tema van ons vooroordele is die subtiele manier waarop dit ons bedrag beïnvloed. Byvoorbeeld, wanneer ons ’n emosionele besluit neem, glo ons dikwels dat ons redenering op logika gegrond is. Dit is slegs wanneer ons na ons vooroordele en voorbeelde van sodanige gedrag kyk dat ons die tekortkominge in ons besluitnemingsproses begin raaksien.

Voorbeelde van algemene vooroordele is onder meer die volgende:

Bevestigingsvooroordeel

Dit is wanneer mense bereid is om inligting te aanvaar wat hul reeds bestaande oortuigings ondersteun. Sê maar inligting duik op wat ’n belegger se mening oor ’n belegging bevestig. Hulle sal heel waarskynlik toelaat dat hierdie inligting hul idees bevestig, selfs al is die inligting gebrekkig.

Ervaringsvooroordeel

Dit staan ook bekend as resentheidsvooroordeel of beskikbaarheidsvooroordeel en is wanneer ons die moontlikheid dat ’n onlangse gebeurtenis weer sal plaasvind, grootliks oorskat. Byvoorbeeld, die 2008 finansiële krisis het tot gevolg gehad dat baie beleggers hulle aan die aandelemark onttrek het omdat hulle geglo het dat daar ’n groot moontlikheid bestaan dat so ’n gebeurtenis weer kan plaasvind.

Afkeer van verlies

Beleggers is huiwerig om te erken dat hulle ’n fout gemaak het. Afkeer van verlies in die sin van beleggings is om foute te probeer vermy deur dit nie te ‘realiseer’ nie. Met ander woorde, beleggers sal heel waarskynlik die vermyding van verliese as ’n groter prioriteit beskou as die maak van beleggingswins. ’n Belegger maak net ’n verlies op ’n aandeel wanneer dit verkoop word. As hy die verloorders behou, is daar dalk ’n kans dat dit weer kan verbeter. Dit veroorsaak dat beleggers vinnig wenners verkoop om hul wins vas te lê en glad te lank aan verloorders vasklou, wat oënskynlik hul verliese verminder.

Deur ons eie vooroordele te erken en te verstaan hoe mense van rasionele verwagtinge afwyk, kan ons meer ingeligte besluite oor finansiële kwessies neem. Ons is geneig om na welvarende mense te luister omdat ons dink dat hulle ons van die antwoorde op ons finansiële probleme kan voorsien. Moontlik is hulle waar hulle is as gevolg van ’n mannetjie wat goud spin (as dit nie ons verhaal is nie, kan dit net sowel ’n sprokie wees).

SFP bied omvattende finansiële dienste op talle spesialisgebiede aan. Ons wêreldklas finansiële dienste en kundige advies stel ons in staat om in ons kliënte se individuele behoeftes te voorsien en dit vir hulle moontlik te maak om hul finansiële doelwitte te bereik.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam