5 Maart 2018
Uittree-annuïteite (UA’s) is langtermynbeleggings en daarom sal dit kortsigtig wees om beleggingsbesluite net te grond op wat in 2017 gebeur het. Suid-Afrika se kredietafgraderings het egter weer gewys dat risiko nie heeltemal uitgeskakel kan word nie, maar eerder behoorlik bestuur moet word.
Wanneer voorbereiding vir aftrede ter sprake is, is 50 ’n bepalende ouderdom. Op hierdie ouderdom het die meeste mense net ’n paar jaar oor voor hulle ophou werk, wat beteken dat tyd redelik beperk is om vir aftrede te spaar, of van blootstelling aan ’n afswaai in die mark te herstel. Daarom is dit so belangrik om jou opsies sorgvuldig te oorweeg, om die grootste voordeel uit jou aftreespaargeld te kry – veral in onsekere tye.
Met ’n oordrag na hetsy ’n UA of ’n bewaringsfonds betaal jy geen belasting nie, en kan jy voortgaan om jou spaargeld te laat groei.