Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Strategiese Denke

20 April 2022

“If you don't take care of your money, your money won’t take care of you.” ― Mac Duke, The Strategist.

In ons vorige blog het ons gekyk na ’n SWOT-ontledingsbenadering en hoe dit ons help om dit wat in ons lewens aangaan, te gebruik om ’n relevante en volhoubare plan op te stel. Dit het die stappe aangedui wat nodig is om van strategiese denke op hoër-vlak na iets meer tasbaar en uitvoerbaar te beweeg. Strategiese denke is noodsaaklik as ons beheer oor ons keuses wil uitoefen en dit wat ons in ons lewens kan verander, wil uitlig, eerder as om toe te laat dat die lewe ons aandag aflei met goed wat ons nie kan verander nie.

Strategie beteken eenvoudig om te besluit waar jy wil wees en hoe jy daar gaan kom, en die nodige stappe te doen. In wese is dit wat ons doen wanneer ons jou finansiële plan opstel en bywerk.

Dus, wat moet jy doen om ’n strategie te ontwikkel?

Stap 1 – Bepaal waar jy tans is

Enige tree wat jy besluit om te gee, kan slegs gegee word van waar jy nou is. Selfs die ‘Grand Old Duke of York’ moes eers die heuwel uitklim voordat hy kon afkom. Hierdie kennis sal jou help as jy ’n SWOT-ontleding wil doen; fokus op waar jy tans is en hoe dit jou sterkpunte, swakhede, geleenthede en bedreigings raak. Dit sal verander namate jy na die volgende mylpaal op jou reis beweeg.

Stap 2 – Identifiseer waar jy op ’n bepaalde tydstip in die toekoms wil wees

Dink aan drie, vyf of tien jaar in die toekoms. Waar sou jy dan in jou lewe wou wees? Dis nie deel van SWOT nie – dit gaan meer oor drome en groot denke. Hoe sou jy wou hê jou lewe moes wees as alles in jou guns was? Hier is ’n aanhaling vir dié stap: Mik na die maan; as jy mis, sal jy tussen die sterre beland. Dis slegs die tweede stap van strategiese denke; dus, hoe groter ons kan droom, hoe meer sal ons hê om mee te werk.

Stap 3 – Prioritiseer daardie doelwitte wat jy eerste wil bereik

Die lewe verloop nie altyd volgens ons planne nie, daarom sal ons met ’n oop hand aan party van ons drome moet vashou. Maar ons kan ons energie en aandag toespits op daardie doelwitte wat vir ons die belangrikste is, en hoop die ander ontwikkel in iets beter as wat ons verwag het.

Stap 4 – Bepaal mylpale

As jy ’n driejaarstrategie het, kan jy kyk na wat jy elke drie tot ses maande vir die volgende 36 maande wil bereik. As jy byvoorbeeld jou skuld wil verminder, kan jy ’n maandelikse doelwit stel om jou kredietkaartskuld te verminder (en nie meer skuld aan te gaan nie). Of dalk wil jy verseker dat jy en jou lewensmaat minstens een afspraakaand per maand het en so jul verhouding gesond hou.

Indien dit ’n langer strategie is, soos ’n tienjaarplan, kan jy jaarlikse doelwitte stel. Wanneer dit by spaar op langtermyn of belastingdoeltreffendheid kom, maak hierdie soort tydraamwerke en mylpale baie sin. Jy kan moontlik ’n deel van jou jaarlikse bonus opsysit of bybly met bevorderingsgeleenthede by die werk.

Stap 5 – Lasergefokusde aksie

Waar die vorige aktiwiteit belangrike mylpale geïdentifiseer het, is die laaste taak die uitvoering van daaglikse aksies wat jou sal help om daardie mylpale te bereik. As jy minder wil bestee, kan jy jou kredietkaarte tuis laat sodat die versoeking nie so groot sal wees om ’n peuselhappie of item op pad huis toe te koop nie. As jy jou afspraakaand wil behou, maak seker jy teken dit elke maand in jou kalender aan om jou gunstelingrestaurant te bel en ’n bespreking te maak.

As jy belasting wil verminder en jou spaargeld wil vermeerder, maak seker jy het in Januarie, voor die einde van die belastingjaar, ’n afspraak met jou finansiële adviseur.

Al hierdie aksies hou per slot van rekening verband met jou finansies, of dit nou die besteding of die spaar van geld is.

Dis die moeite werk om tyd te neem om jou strategie te hersien. Drink ’n koppie tee of koffie en kyk na waar jy wou wees en hoe jy daar wou kom. Geld dit steeds, of moet jy dit effens verander? As jy nie vir jou geld sorg nie, sal jou geld ook nie vir jou sorg nie.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam