7 Maart 2019
Dis altyd ’n goeie tyd om te spaar. In moeilike tye kies mense dikwels om in risikoprodukte te belê om kapitaal vir hul gesinne te verseker. Dis ook slim om te begin belê wanneer die markte laag is. Jy kry beter waarde vir jou geld.
Soos met enige kliënt, sal ek na jou inkomste kyk en ’n begroting opstel, wat onderskei tussen noodsaaklike en luukse items. Baie van my kliënte verdien goeie geld en bestee net so goed! Dis uiters belangrik om ’n prioriteitslys van jou uitgawes op te stel en te besnoei op die luukses, sodat jy meer oor het om te spaar. Dis ook belangrik om die waarde van saamgestelde rente te verstaan, wat spaarders beloon as hulle oor die lang termyn hul beleggings volhou.
Ek raai my kliënte aan om ’n debietorder te gebruik om outomaties ’n vaste bedrag te spaar of te belê. Ek moedig hulle ook aan om dit nie as ’n “griefkoop” of selfs as ’n uitgawe te beskou nie – dis ’n belegging in hul finansiële sekuriteit.
Jou primêre doelwit moet wees om van skuld ontslae te raak. Betaal byvoorbeeld meer af op jou verband of motor, om rente te bespaar. Dis ook die moeite werd om ’n gebeurlikheidsfonds te skep deur ’n belastingvrye spaarproduk te gebruik – om onvoorsiene uitgawes te dek sonder om skuld te maak. Die aanvulling van jou aftreespaargeld is ook noodsaaklik. Die pensioen- of voorsorgfonds wat jy by jou maatskappy het, sal waarskynlik nie al jou uitgawes gedurende aftrede dek nie. Daarom is dit raadsaam om voorsiening te maak vir ’n uittree-annuïteit, sodat jy tekorte op ’n uiters belastingdoeltreffende wyse kan aanvul.
Eerstens – trek voordeel uit ’n belastingvrye spaarproduk benewens jou langertermyn-spaarfondse. Dit gee jou toegang tot jou belegging, ongeag of jy jou kinders se studie moet befonds of ’n nooduitgawe moet dek. Tweedens – moet nooit ophou spaar nie! Selfs wanneer jy ’n deel van jou belegging gebruik, hou aan om gereeld by te dra. Ten slotte is jy nooit te jonk om te begin spaar nie. My kleinseun is my jongste kliënt – hy het sy eie belastingvrye spaarrekening op die ouderdom van een maand!