Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Verminder Vandag Finansiële Stres

9 September 2021

As jy onder finansiële stres verkeer, is jy nie alleen nie. Dis heeltemal in orde, en normaal. Ons gaan jou help om vandag jou finansiële stres te verlig.

Die afgelope paar jaar was vir almal moeilik – finansieel, emosioneel, fisiek en geestelik. Die steil pad terug na ’n sterk ekonomie is plaaslik en wêreldwyd nog glad nie verby nie. Dis noodsaaklik om lewenskragtigheid op te bou, vir onsself goed te wees en gesonde gewoontes te beoefen.

Ons kan met die volgende wenke finansiële stres verminder.

Stap 1: Kommunikeer

As jy oor jou finansies bekommerd is, is die mense om jou waarskynlik ook. (Onthou, jy’s nie alleen in die saak nie.)

Een van die grootste stressors wat geld meebring, is die negatiewe impak wat dit op ons verhoudings kan hê. Party van ons het by vorige geslagte geleer om in stilte te ly en nie ons bekommernisse oor geld met diegene naby ons te deel nie.

Dit het ’n groot impak.

Die saak staan so – ons lewensmaats, kinders, ouers, en vriende sal altyd weet. Ons is gewoonlik onbewus van die gesig wat ons trek wanneer ons kind die duurste speelding in die winkel kies, of ons kil reaksie wanneer ons lewensmaat praat van enigiets waarvoor daar nie begroot is nie.

Die probleem is dat dit nie vir hulle maklik is om te weet of dit hulle of ons angstigheid oor geld is wat ons frustreer nie.

’n Eerlike en openhartige gesprek met geliefdes oor geldsake kan goed wees vir gesinsbande en banksaldo’s. Jy sal dalk verbaas wees oor die mate waarin jou lewensmaat jou ondersteun om van sekere uitgawes af te sien ten einde jou begroting gesond te hou.

Stap 2: Kry advies

Wanneer geld reeds min is, kan dit moontlik ondenkbaar wees om ’n finansiële adviseur te raadpleeg. Dis belangrik om te besef dat dit beteken dat jy ’n bietjie meer kan bestee om toegang te verkry tot strategieë en idees vir welvaartskepping en beleggingsgeleenthede waarvan jy volkome onbewus was en wat jou emosionele, geestelike en finansiële posisie beduidend kan verbeter.

Om ’n finansiële adviseur te raadpleeg, het dieselfde uitwerking op jou besteding as om ’n kosdagboek vir jou dieet te hou. Met die hulp van ’n finansiële adviseur kan jy meer bedag wees op die uitskakeling van vermorsing, en jou besteding toespits op dit wat vir jou belangrik is.

Stap 3: Wees eerlik

In onderhoude en gesprekke oor finansiële beplanning moet ons eerlik wees. Sê wanneer dit moeilik is en jy nie gereed voel om veranderinge te maak nie. Dis belangrik om te gesels oor wat ons nie meer kan bekostig nie en wat ons graag wil bereik. Enige verandering wat gemaak word voordat ons daarvoor gereed is, is dikwels nie volhoubaar nie.

Hierdie soort gesprekke voeg waarde tot ons finansiële reis toe en gee lewe aan finansiële advies. Ons kan met entoesiasme reageer, nuwe idees kry en sterker verhoudings bou.

Stap 4: Gebruik dié tyd vir aanpassing en verfyning

In plaas daarvan om ’n finansieel spanningsvolle tyd as ’n bodemlose put te beskou, probeer dit sien as ’n geleentheid vir nuwe groei. Ekonomiese afswaaie, swak ekonomieë, resessies en alle soorte winde van voor kom altyd tot ’n einde.

Dit bied die geleentheid om ons ingesteldheid en strategie vir welvaartskepping aan te pas en te verfyn. Maar ons moet dit doelbewus doen, en dit begin met die waarneming van hoe ons voel en erkenning van die finansiële stres sodat ons nie ander daarvoor blameer nie.

Dis slegs wanneer ons gedrag en emosies waarneem dat ons iets daaromtrent kan doen.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam