19 November 2020
In die vorige artikel het ons gekyk na ’n paar algemene vrae en antwoorde waarmee ons gereeld te make kry. In Deel Twee ondersoek ons meer gedetailleerde voorbeelde.
Skemas het nie gesag oor watter medikasie gebruik moet word nie Jou mediese skema kan jou nie dwing om ’n bepaalde soort medikasie te gebruik nie. Hulle kan jou wel aanmoedig om ’n sekere medikasie te gebruik, maar die finale besluit berus by jou. As jy verkies om nie hul aanbeveling te aanvaar nie, sal jy waarskynlik vir enige verskil in die prys moet betaal.
’n Skema kan jou nie dwing om netwerkhospitale te gebruik nie Hulle kan jou weereens aanmoedig om dit te doen, maar op die ou end is dit jou keuse. As jy gewillig is om die verskil te betaal, kan jy kies om dokters en hospitale buite die netwerk te gebruik. Die skema kan egter aansporings vir die keuse bied deur te waarborg dat daar geen bybetalings is wanneer jy binne die netwerk bly nie.
Dit duur nie ’n ewigheid voordat skemas eise uitbetaal nie ’n Eis word gewoonlik net vertraag indien van die vereiste inligting ontbreek. Trouens, die skema het 30 dae vanaf ontvangs van die eis om dit te betaal. Indien skemas gereeld die betalingstydperk van 30 dae oorskry, word hulle deur die Raad op Mediese Skemas tot verantwoording geroep.
Jou ouers kan lede van jou mediese skema word As jou ouers finansieel van jou afhanklik is, en jy kan dit bewys, kan hulle as volwasse afhanklikes by jou skema aansluit.
’n Mediese skema kan jou lidmaatskap beëindig Baie mense is van mening dat hulle op hul lidmaatskap geregtig is. Daar is egter omstandighede waaronder die mediese skema of versekeraar jou lidmaatskap kan beëindig. Hulle kan dit doen wanneer jy byvoorbeeld nie die maandelikse bydraes kan betaal nie, of as jy skuldig bevind word aan bedrieglike eise.
Alhoewel ons gekyk het na algemene navrae wat ons dikwels ontvang, kan dit vanselfsprekend meer vrae opwerp. As jy dink dat jy dalk onder ’n wanindruk omtrent jou mediese dekking is, skakel ons sodat ons enige onsekerheid kan opklaar. Ons wil seker maak dat jy die beste gebruik van jou mediese dekking maak en die voordele geniet wat aan jou en jou familie beskikbaar is.