Vrae om te vra wanneer mediese dekking hersien word
Wat is die risiko as ’n mens nie jou mediese skema-dekking hersien nie?
Hier’s ’n voorbeeld: hospitalisasie en spesialisbehandeling maak die grootste deel van mediese koste uit, volgens die Raad vir Mediese Skemas. Spesialiste en hospitale onderhandel tariewe op ’n individuele grondslag met verskillende skemas. Dit beteken ’n spesialis kan dubbeld die skematarief of nog meer vra, wat tot ’n moontlike tekort op baie vlakke kan lei. Mense aanvaar te dikwels dat hulle gedek word en het dan later ’n probleem wanneer hulle te groot tekorte moet dek of geen dekking het nie. Dit is belangrik om ’n 12-maandesiening te hê, en ’n adviseur te raadpleeg wat insig in die fyner bepalings het.
Hoekom moet ’n mens meer as een verskaffer oorweeg om jou gesondheidsorgbehoeftes te dek?
Die afbakeningsregulasies wat mediese gapingsdekking, hospitaalkontantplanne en primêre gesondheidsorg beheer, het in 2017 in werking getree. Dit verbied mediese skemas om hierdie produkte te verkoop, en omgekeerd. Mediese skemas word deur die Raad vir Mediese Skemas gereguleer, terwyl die ander produkte aan die Lang- en Korttermynversekeringswette onderworpe is. Elk van die produkte wat jy miskien nodig het om al jou gesondheidsorgbehoeftes te dek, het dus hul eie reëls, voordele en regulasies en hulle dek verskillende behoeftes.
Watter gesondheidsprodukte is noodsaaklik?
Hoe belangrik produkte is, sal afhang van jou gesondheidsorgbehoeftes en hoe bekostigbaar hulle vir jou is. ’n Omvattende opsie is die wenslikste, maar na gelang van jou of jou gesin se unieke behoeftes, kan uitgebreide voorskrifversamelings en prostesevoordele, tandheelkunde, optometrie of gespesialiseerde kosmetiese prosedures laer op jou gesondheidsorg-prioriteitslys wees.
Nie almal kan egter ’n mediese skema-opsie bekostig nie, of jou gesondheidsorgbehoeftes verg miskien nie al hierdie voordele nie. Die verskillende opsies vir iemand met ’n beperkte begroting of beperkte gesondheidsorgbehoeftes is:
- Primêre gesondheidsorgversekering: Dit gee jou toegang tot mediese praktisyns en voorkomende sorg met onmiddellike behandeling wat die risiko van hospitalisasie en chroniese siektes beperk.
- Gapingsdekking: Dit is bedoel as ’n aanvulling om die verskil te dek tussen wat diensverskaffers vra en wat die mediese skema betaal wanneer jy in die hospitaal opgeneem word. Daar word geraam dat minder as 10% van mediese skemalede gapingsdekking het. ’n Gebrek aan hierdie dekking kan finansies uitput en ’n sorgvuldig berekende finansiële plan ontwrig.
Wat betaal ek vir dit wat ek nie nodig het nie?
Party mense registreer die hele gesin op die duurste opsie, vir gemoedsrus “ingeval iets gebeur”. Dit beteken hulle kan betaal vir ryk voordele wat hulle nie nodig het nie of waarvoor hulle nie ’n ooglopende risiko het nie. Dit onderstreep weer eens die belangrikheid van ’n jaarlikse hersiening. Dit is beter om familielede met groter gesondheidsorgbehoeftes op ’n aparte plan te registreer, sodat die hele gesin nie uiteindelik meer betaal vir voordele waaraan nie almal ’n behoefte het nie. Bevestig egter dat jou verskaffer van gapingsdekking jou toelaat om een gapingsdekkingpolis uit te neem om familielede op verskillende mediese skemas te dek.