Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Visvang in Stormagtige Weer

29 September 2020

Vissermanne stem oor die algemeen saam dat die beste tyd om vis te vang net voor ’n storm is. Die teenoorgestelde is dikwels (nie altyd nie, maar dikwels) ook waar, naamlik dat om onmiddellik ná ’n storm vis te vang nie so suksesvol is nie.

Om te belê is dieselfde, alhoewel dit baie moeiliker is om die storms te voorspel! Diegene wat voor ’n storm in die markte hul skuiwe maak en dan geduldig wag, verdien beter opbrengste. Diegene wat onmiddellik ná die storm groot veranderinge maak, vind dit moeiliker om hul geld terug te wen.

Ten einde suksesvol in stormweer vis te vang, moet jy verstaan wat in die atmosfeer aan die gang is. Visse kan die veranderinge in die barometriese druk aanvoel. Dit veroorsaak dat hulle koorsagtig kos soek sodat hulle die storm kan oorleef. In dié tyd sit die visserman kalm op die see, hou ’n oog op die storm en trek sy vangs op.

Wanneer dit by beleggings kom, wil jy soos die visserman wees, nie die vis nie. Baie mense reageer wanhopig en emosioneel op stormagtige beleggingsnuus, in plaas daarvan om ’n kalm en stelselmatige benadering te volg.

Dit is onmoontlik om te voorspel wanneer dit die beste tyd is om beleggings te koop en te verkoop. As jy egter ’n keuse het, probeer om voor ’n storm vis te vang en nie wanneer die storm besig is om verby te trek nie. Navorsing het bevind dat die beste strategie is om nie tydsberekening op die mark te probeer toepas nie, maar om met ’n goed ontwikkelde beleggingsplan tyd in die mark deur te bring. Per slot van rekening is die beste visserman die een met die meeste ervaring op die see.

Net soos visvang, verg beleggings geduld. Jy moet jou beleggings tyd gee – jy’t ’n posisie ingeneem en nou moet jy wag. As jy elke keer jou lyn optrek om te kyk of daar iets aan die hoek is, gaan jy niks vang nie. Jy moet geduldig wees.

Dit is belangrik om te onthou dat alhoewel dit lyk of daar by beleggings én visvang nie veel aan die gebeur is nie, daar beweging onder die oppervlak is. Om niks te doen nie, is nie dieselfde as om geduldig te wag tot jy suksesvol is nie.

Hoe langer jy belê bly, hoe groter is jou kanse om ’n positiewe opbrengs in jou portefeulje te genereer. Wanneer dit kom by beleggings vir langtermyndoelwitte, is tyd aan jou kant.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam