Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Voordele van ’n Belastingvrye Spaarrekening

16 Februarie 2022

Daar word beweer dat ons land een van die laagste huishoudelike spaarkoerse ter wêreld het. Ons by SFP ken die voordeel van langtermynspaar en hoe om dit ’n maandelikse gewoonte eerder as ’n groot einddoel te maak.

Een van die uitdagings om ’n groot klomp geld (vir aftrede of finansiële onafhanklikheid) te spaar, is dat ons op die einddoel fokus en dink dat dit te groot is. Dit word dan ’n struikelblok wat verhoed dat ons begin. Maar as ons die gewoonte van spaar kan aanleer, een waarmee ons kan volhou, sal ons waarskynlik meer spaar en sodoende Suid-Afrika se spaarstatistiek kan begin omkeer.

Ten einde ’n spaarkultuur aan te moedig, het die regering in 2015 belastingvrye beleggings en belastingvrye spaarrekeninge (BVSR’e) bekendgestel as aansporing tot goeie spaargewoontes. Soos die SAID op hul webwerf aandui, hoef jy nie inkomstebelasting, dividendbelasting of kapitaalwinsbelasting op die opbrengs uit hierdie beleggings te betaal nie. Indien jy nie ’n BVSR het nie, is dit ’n goeie opsie vir ’n maandelikse spaargewoonte, en as jy wel een het, is dit goed om te weet hoe jy meer daarin kan belê. Maar lees verder om meer uit te vind oor hoe perke die beleggingstrategie raak.

Jy betaal geen belasting op die groei van jou belegging nie. Dit beteken dat belastingbesparings met verloop van tyd verhoog omdat jy saamgestelde groei verdien op die belasting wat jy bespaar; hoe gouer jy dus begin, hoe beter. Jou belegging kan ook onmiddellik sonder enige eksekuteursgeld aan jou begunstigdes betaal word, wat dit ’n belastingdoeltreffende en uitstekende hulpmiddel vir boedelbeplanning maak.

In ’n onlangse artikel oor BVSR’e het ons gekyk na ’n voorbeeld waar ’n tradisionele spaarbelegging met en sonder belasting vergelyk is. Die perk van R500k is bereik deur 13 jaar en 10 maande lank R3 000 per maand te belê, met ’n laaste bydrae van R2 000 in die 11de maand. Daar is aangeneem dat die belegging 11% per jaar sou verdien met ’n gelyke opbrengsverdeling tussen inkomste, dividende en kapitaalwins en ’n persoonlike belastingkoers van 45%.

Die BVSR het ’n waarde van R2 264 392 voorspel in vergelyking met die tradisionele waarde van R1 737 084 van ’n spaarbelegging. Dis ongeveer 30% meer geld deur in ’n BVSR in plaas van ’n gewone spaarbelegging te belê.

Maar dis nie ’n eenvoudige oplossing nie – ’n belastingboete van 40% is betaalbaar vir enige bedrag wat die maksimum belegging van R36 000 per belastingjaar en R500 000 oor jou leeftyd oorskry. Hierdie perke is van toepassing op enige belastingvrye beleggings wat by verskillende maatskappye gehou word. Dis die belegger se verantwoordelikheid om seker te maak dat hul gesamentlike belegging by alle produkverskaffers nie hierdie maksimum oorskry nie.

Selfs al het jy te eniger tyd toegang tot jou belastingvrye belegging kan onttrekkings nie aangevul word nie. Belastingvrye beleggings is uiters geskik vir die opbou van welvaart op langtermyn ooreenkomstig die doel om goeie spaargewoontes aan te kweek.

Onthou, BVSR’e is nie bedoel om die enigste bron van spaar vir aftrede of finansiële onafhanklikheid te wees nie. Wanneer dit saam met ’n langtermynbeleggingstrategie gebruik word, bied dit saam met die beleggingstrategie wat ’n gereelde annuïteitsinkomste verseker die geleentheid om jou neseier met ’n belastingvrye enkelbedrag aan te vul.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam