Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

Vyf Redes om Jou Uitkeerpolis te Hou

7 Maart 2019

’n Uitkeerpolis is ’n beleggingsproduk wat verskeie potensiële voordele inhou.

Bennie Wessels, Produkaktuaris by Sanlam, bespreek in breë trekke vyf voordele om ’n uitkeerpolis as deel van jou medium- tot langtermynstrategie vir welvaartskepping in stand te hou.

  1. Verhoog jou Belastingdoeltreffendheid
    Met ’n uitkeerpolis betaal die lewensversekeringsmaatskappy inkomstebelasting namens jou teen 30%. Afgesien van die verligting van jou administratiewe las, kan dit ook ’n belastingdoeltreffende opsie vir jou wees, indien jou marginale belastingkoers hoër as 30% is en jy reeds jou belastingvrystellings gebruik het of die toegelate maksimum tot ’n belastingvrye spaarrekening bygedra het. En wanneer jou uitkeerpolis uitkeer, is die opbrengs boonop belastingvry in jou hande.
  2. Bespaar op Eksekuteursgelde
    Uitkeerpolisse bied aantreklike boedelbeplanningsvoordele. Jy kan ’n begunstigde benoem om die opbrengs van jou uitkeerpolis by jou dood te ontvang. Of so nie, kan jy ’n nuwe persoon benoem om eienaarskap van jou uitkeerpolisproduk oor te neem. Nóg jou begunstigdes nóg die nuwe uitkeerplanhouer sal in hierdie gevalle eksekuteursgelde hoef te betaal. Dit kan ’n besparing van tot 3.5% (BTW uitgesluit) beteken.
  3. Kry Insolvensiebeskerming
    Na drie jaar word die volle fondswaarde van jou uitkeerpolis teen krediteure beskerm. Dieselfde geld vir vyf jaar nadat die uitkeerpolis beëindig is, mits die opbrengs aan jou gade, kinders of ouers betaalbaar is.
  4. Moedig Spaardissipline aan
    Gedurende die minimum beleggingstermyn van vyf jaar, word jy net toegelaat om een onttrekking en een lening aan te gaan. Indien jy jou kontrak voor die uitkeerdatum van die polis beëindig, kan beëindigingskoste van toepassing wees. Hierdie beperkte toeganklikheid hou die voordeel in dat dit spaardissipline aanmoedig en jou help om toegewyd te spaar oor die medium tot lang termyn.
  5. Geniet Groter Buigsaamheid wanneer Jou Polis Uitkeer
    Wanneer jou uitkeerpolis sy uitkeerdatum bereik het, het jy ’n belastingdoeltreffende produk wat ook buigsaam is. Vanaf die uitkeerdatum het jy onbeperkte toegang tot jou uitkeerpolis. Dit beteken jy kan kies of jy gereelde onttrekkings wil aangaan om jou aftree-inkomste aan te vul, ad hoc-onttrekkings wil doen soos en wanneer jy dit nodig kry, of ’n enkelbedrag wil onttrek om ’n ander lewens- of aftreedoelwit te dek.

’n Uitkeerproduk van Sanlam kan waarde tot jou beleggingsportefeulje toevoeg. Gesels met jou finansiële adviseur om leiding te kry vir jou besondere situasie.

Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam