Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact

  • +27 21 950 2548
Back

Email

Skip Navigation LinksMedia Centre
 

​​​​​​Grootste Geldslenters waarop Jy Bedag Moet Wees

5 September 2018

Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) het Suid-Afrika die derde hoogste getal slagoffers van kubermisdaad in die wêreld. Kubermisdaad lei jaarliks tot ’n verlies van sowat R2.2 miljard.

Indien jy toegang het tot die internet, ’n slimfoon, bankkaarte of ’n motor, is die kanse groot dat jy ’n teiken van bedrog kan wees. Hoe meer gevorderd die tegnologie is, hoe meer verbeeldingryk is die slenters. Dit beteken elke keer wanneer jy op jou slimfoon of rekenaar inskakel of ’n e-pos oopmaak, loop jy gevaar om aan kubermisdaad blootgestel te word.

Dit is belangrik dat jy as ’n verbruiker bewus bly van die mees algemene slenters, om jouself daarteen te beskerm. In die verlede was dit maklik herkenbaar – nou is die benadering egter so gesofistikeerd dat dit moeilik kan wees om ’n potensiële slenter raak te sien. Van reisbesprekings tot sosiale media-kompetisies, is die volgende voorbeelde van bedrog waarop alle Suid-Afrikaners bedag moet wees:

Reisbedrog

Beide reisagente en reisigers kan per e-pos of op ander wyses maklik mislei word om deposito’s vir besprekings in die verkeerde rekening in te betaal. Die risiko neem veral toe wanneer jy na ’n land reis wat jy nie ken nie, en van reisagente en ander toeristedienste afhanklik is om jou vakansie te reël.

In een insident het ’n reisagent die slagoffer van ’n swendelgroep geword terwyl sy besprekings vir kliënte in die DRK gedoen het. Sy was besig om die hotel te betaal toe sy ’n e-posboodskap kry wat sê dat die hotel se bankbesonderhede verander het. Nadat sy die betaling gedoen het, het die duidelik geword dat dit nooit die hotel bereik het nie.

WhatsApp-bedrog

’n Gewilde slenter is tans om kamma afslag, gratis of goedkoop vlugte of kompetisies aan te bied om gebruikers te oorreed om op ’n skakel te klik om die afslag te kry of vir die kompetisie in te skryf. Die skakel lyk dikwels heeltemal wettig en soos ’n bekende handelsmerk se webwerf, en op die oog af betroubaar. Die boodskap word dan op die platform van vriend tot vriend oorgedra, maar wanneer jy daarop klik, word kwaadwillige sagteware (malware) op jou toestel afgelaai waarmee toegang tot jou persoonlike en bankbesonderhede verkry kan word. Moenie op hierdie skakels klik nie. Skrap eenvoudig sulke boodskappe op jou foon. As dit te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik die geval.

SARS-terugbetalings: Kuberbedrog

Die belastingterugbetaling-slenter is veral geneig om gedurende die belastingseisoen kop uit te steek. Lede van die publiek word lukraak per e-pos bestook met fopboodskappe wat lyk asof hulle van die SA Inkomstediens (SARS) afkomstig is, maar eintlik bedrieglike e-pos is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers te oorreed om persoonlike inligting soos bankrekeningbesonderhede te verskaf. Hierdie inligting word dan gebruik om toegang tot belastingbetalers se bankrekeninge te verkry en geld te steel. Hoewel hierdie tipe bedrog voorheen maklik uitgeken kon word, het dit nou meer gesofistikeerd geword, en moeilik om op te spoor.

SARS gee hierdie riglyne aan belastingbetalers om nie deur ’n slenter om die bos gelei te word nie:

  • Moenie e-posboodskappe van onbekende bronne oopmaak of daarop reageer nie
  • Pas op vir e-posboodskappe waarin persoonlike, belasting-, bank- en eFiling-besonderhede aangevra word
  • SARS sal nie bankbesonderhede per telefoon, op e-pos of webwerwe aanvra nie.
  • Pas op vir vals SMS’e
  • Belastingbetalers sal nooit hiperskakels na ander webwerwe (selfs dié van banke) ontvang nie, en die SARS-webwerf bevat nie skakels na enige banke nie

Kriptogeld-slenters

Kriptogeld is ’n speelplek vir waaghalsige beleggers, maar jy moet ingelig wees voordat jy dit waag. Daar is ’n magdom webwerwe wat ’n platform aanbied waar kriptogeld teen hoë opbrengste gekoop en verkoop kan word. Nie almal is egter wettig nie en baie Suid-Afrikaners het al slagoffers geword van hierdie vals webwerwe. Voordat jy belê, soek vir bewyse dat die werwe onderskryf word en dat partye met ’n goeie naam betrokke is, om te bepaal of die projek deur ’n wettige en geloofwaardige span bestuur word.

Slenters met Aanlyn-aankope

Swendelaars verkoop dikwels produkte op gewilde webwerwe of sosialemedia-platforms. Kopers word dan gevra om die deposito te betaal om die produk te verkry en die orige bedrag by aflewering te betaal. Na die betaling van die deposito is die verkoper net nie meer bereikbaar nie en is die koper sy of haar geld kwyt. Moenie produkte aanlyn koop nie, tensy hulle van ’n geverifieerde verkoper afkomstig is en ontvangs van die goedere gewaarborg is. Die ander metode wat swendelaars gebruik, is om ’n vals bewys van betaling aan die verkoper te SMS of te e-pos. Die swendelaar sal ook tipies baie haastig wees en die goedere so gou as moontlik wil afhaal en vertrek, en voorgee om baie dringende besigheid te hê, of sê dat hy of sy net die dag beskikbaar is en dat die transaksie onmiddellik afgehandel moet word of glad nie. Die beste manier om seker te maak die geld is regtig in jou rekening inbetaal, is om jou bank te bel of jou internetbankstaat na te gaan.

Slenters met Persoonlike Lenings

Die slagoffer word meestal per e-pos of SMS gekontak en byvoorbeeld ’n lening aangebied. Sodra die slagoffer die fooi betaal het, verdwyn die swendelaar of beloof nog meer geld in die nabye toekoms, in ruil vir bykomende aanvanklike fooie. Die slagoffer word op dié manier van sy of haar swaar verdiende geld beroof, en die swendelaars het toegang tot hul bankbesonderhede. In 2017 het swendelaars dieselfde benadering gevolg en via vals e-posadresse van Sanlam met fopboodskappe lenings van tot R1m teen ’n vaste rentekoers van 2.5% per jaar bo en behalwe ander persoonlike en sakelenings aangebied. Sanlam bied nie huislenings aan nie, en hierdie aanbiedings was onwettig.

Sanlam se leningsaanbod word bestuur deur Sanlam Persoonlike Lenings (Edms) Bpk, ’n geregistreerde kredietverskaffer. Ons sal verbruikers nooit vra om vooraf ’n betaling te doen met ’n aansoek of om ’n lening uit te reik nie.

Sanlam stel die volgende kontrolelys beskikbaar om nie deur ’n slenter mislei te word nie:

  • Sanlam sal nooit ’n kliënt vra om vooraf ’n betaling te doen om ’n leningsaansoek te laat verwerk nie.
  • Spel- en taalfoute in kommunikasie met kliënte kan ’n aanduiding wees dat die aanbod ’n slenter is.
  • In sommige slenters kan selfs die name van werklike werknemers van die maatskappy gebruik word en is daar mense wat hul telefone beantwoord.
  • As mense onseker is of ’n leningsaanbod wettig is of nie, kan hulle dit verifieer deur Sanlam Persoonlike Lenings se inbelsentrum by 0861 44 00 44 te skakel of die Sanlam webwerfte besoek.

Moenie Jou deur ’n Slenter Laat Vang nie

Dit is veilig om te aanvaar dat as iemand jou bank- of persoonlike besonderhede aanvra, jy met ’n slenter te doen het. Onthou altyd: as dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik die geval. As jy op enige tydstip om persoonlike inligting gevra word, volg dit op met ’n telefoonoproep na die organisasie van wie die e-pos, brief of foonoproep skynbaar afkomstig is, om te verifieer dat dit wettig is.

Hoe om ’n Slenter te Herken:

  • Wanneer jy oproepe van twyfelagtige verkoopspersoneel of vreemde oproepe ontvang
  • As jy om persoonlike inligting en geld gevra word
  • Wanneer die sender se e-posadres verdag lyk
  • As jy nie ingeskryf het vir ’n kompetisie wat jy gewen het nie
Sanlam Life Insurance is a licensed financial service provider.
Copyright © Sanlam