Wat is gedek?
Alhoewel premies steeds betreklik goedkoop en voordele omvattend kan wees, is tye besig om te verander wat gapingsdekking betref. Dit is dus belangrik om te weet presies wat gedek is. Oor die jare het die media berig dat die verskaffers van gapingsdekking hul uitgawes moes besnoei ten einde finansieel lewensvatbaar te wees ondanks stygende privaat gesondheidsorgkostes. Op stuk van sake word versekeringskemas vir wins bedryf, en gapingsdekking is ’n versekeringsproduk wat aan die regulasies van die Korttermyn- en Langtermynversekeringswette onderworpe is eerder as aan dié van die Wet op Mediese Skemas van 1998.
Gapingsdekking word gebruik om die verskil te betaal tussen wat jou mediese skema betaal en jou totale mediese rekening, wat beteken dat selfs al het jy die goedkoopste hospitaalplan, jy ten volle gedek sou wees as jy gapingsdekking het.
Dit beteken egter ook dat die verskaffers van gapingsdekking, en nie mediese skemas nie, dikwels vir die grootste gedeelte van mediese kostes aanspreeklik is. Dit is bekend dat hierdie verskaffers tot 80% van kostes dra, en sulke groot tekorte beteken dat volle gapingsdekkingbetaling dikwels op lang termyn nie meer volhoubaar is nie.
Gevolglik het baie verskaffers van gapingsdekking ’n nuwe stelsel (“MatchPay”) ingebring wat op jou mediese skema gebaseer is en waarvolgens hulle bereken hoeveel van die bybetaling hulle sal dek.
In die lig van al die uitsluitings en nuwe berekeninge is dit belangrik dat jy goed verstaan wat jou mediese skema dek en hoe jou gapingsdekking daarvolgens werk. As jy enige gesondheidsprobleme het, wil jy jou regtig nie bekommer oor of jy dit kan bekostig om die nodige hulp te kry nie. Dit is dus raadsaam om so omvattend moontlik gedek te wees wanneer dit by mediese behandeling in Suid-Afrika kom. Moenie huiwer om ’n afspraak te reël as jy graag die bekostigbaarheid (of nie) van ’n gapingsdekkingplan vir jou gesin wil bespreek nie.